Uitvoerende kunstenaars wys SA het hope talent

Riaan Grobler

Anike Thom. (Foto: Irma Palm van Palm Photography)

Anike Thom. (Foto: Irma Palm van Palm Photography)

Die finale ronde van die 22ste Suid-Afrikaanse kampioenskap vir uitvoerende kunste vir 2019 het Saterdag by die burgersentrum in Rustenburg afgeskop.

Daar is vanjaar 7 800 items in die kategorieë van dans, sang, modelwerk, drama en instrumentaal. Deelnemers gaan gedurende die week voor verskeie beoordelaars meeding om die gesogte goue, silwer- en bronsmedaljes te wen. Die hoofdoel is om gekies te word vir die span wat Suid-Afrika in Julie gaan verteenwoordig in die Wêreldkampioenskap vir uitvoerende kunste in Hollywood, Los Angeles.

Verskeie bekende uitvoerende kunstenaars, soos Carmen Pretorius, Daniah de Villiers, Germandt Geldenhuys, Tobi Jooste en Zanzi Afrika, het by dié uitvoerendekunste-kompetisie hulle loopbaan begin.

Die uitvoerendekunste-kompetisie skep ʼn platform vir deelnemers om hulle talente uit te leef en op professionele verhoë deel te neem. Verder kry deelnemers ʼn kans om werksessies oor die hele Suid-Afrika by te woon om hulle talente te slyp.

Deelnemers van so jonk soos vyf jaar kan hulle talente kom wys. Daar is geen maksimum ouderdom nie en vanjaar is die oudste deelnemer 42 jaar oud. In die verlede was daar al deelnemers wat amper 70 jaar oud en ook deel van span Suid-Afrika was. Daar is subkategorieë in elke genre waar solokunstenaars, duette of groepe kan deelneem in verskillende ouderdomsgroepe.

(Foto: Irma Palm van Palm Photography)

(Foto: Irma Palm van Palm Photography)

Vanjaar neem oor die 60 lande deel aan die Wêreldkampioenskap vir uitvoerende kunste in dieselfde genres en ding mee om gekies te word as die algehele junior en senior wêreldkampioen van die uitvoerende kunste.

Tydens dié strawwe week van kompetisie kry deelnemers slegs een en ʼn halwe minuut tyd om te wys hoekom hulle met ʼn goue medalje huis toe gestuur behoort te word. Daar word ook verskeie beurse toegeken aan deelnemers om verder internasionaal te gaan studeer by instansies soos die New York Film Academy, Millennium Dance School en die Los Angeles Performing Arts Centre.

Daar word darem nie net meegeding tydens die oorsese reis nie. Deelnemers kry ook kans om Los Angeles te verken met besoeke aan onder meer Disneyland, Universal Studios, Hollywood Walk of Fame en Beverly Hills.

Molefe Hlonolofantso. (Foto: Tena Myburgh van Myburgh Photography)

Molefe Hlonolofantso. (Foto: Tena Myburgh van Myburgh Photography)

Die 12-jarige Stefan Bezuidenhout is in 2018 aangewys as die “Junior Grand Champion of the world” en het nie net met dié titel weggestap nie, maar ook $7 500 (sowat R106 000) gewen. Hy is ook raakgesien deur die talentbestuurder, Manny Mijares, wat ʼn beoordelaar was in die sangafdeling.

Mijares is verantwoordelik vir verskeie internasionale sangers se sukses en Bezuidenhout werk tans aan sy internasionale album. In 2018 het hy verskeie kere ná die wêreldkampioenskap weer besoeke aan Los Angeles afgelê om saam met bekende liedjieskrywers en sangers te werk en het ook die Grammy-toekennings bygewoon.

Volgens dr. Ellen Roux, die direkteur van die Suid-Afrikaanse kampioenskap vir uitvoerende kunste, groei die kompetisie die afgelope 22 jaar geweldig met ʼn rekordgetal deelnemers vir 2019.

“Ons het al baie beurse aan deelnemers toegeken en skep sodoende geleenthede vir dié kunstenaars om internasionaal te gaan optree. Ons belê ook in opkomende kunstenaars en hulle onderwysers se toekoms,” het Roux gesê.

Volgens Roux word opkomende kunstenaars in Suid-Afrika nie finansieel deur die regering ondersteun nie en dit bly jaarliks ʼn uitdaging om soveel moontlik deelnemers na Los Angeles te stuur.

Die 2019- Suid-Afrikaanse kampioenskap strek tot Saterdag 6 April wanneer die groot finale konsert gehou word waartydens span Suid-Afrika aangekondig word. Tydens hierdie galageleentheid word die room van die afgelope week se talent ten toon gestel waarna die algehele kategoriewenners aangekondig word. Die junior en senior algehele wenners wen ʼn volbetaalde reis na die Wêreldkampioenskap vir uitvoerende kunste in Julie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Anoniem ·

Skuus ek nou my mening gee……baie baie talentvolle kinders wen jaar in en jaar uit by dié SA kampioenskappe, maar dit is doodeenvoudig net te duur om in Los Angeles deel te neem. Beurse word vir klein handjievol kinders gegee al die ander wenners moet self betaal. Jy moet omtrent jou kar verkoop. Glo my my eie kinders het 10 jaar lank gewen! Dis nie die bestes wat oorsee kan gaan deelneem nie dis die rykstes of ouers wat hulle self in skuld dompel, om op die ou einde net nog ‘n medalje huis toe te bring.

Gerrie Swanepoel ·

Hi anoniem,
Graag wil ek jou net reg help deur die feite vir jou uit te wys. As ‘n gewese ouer en nou spanbestuurder en afrigter, wat steeds betrokke is by hierdie kompetisie – die vlg’ e:
1. Ja, dit is baie duur om in die VSA te gaan deelneem. Kyk maar net na die Rand/Dollar wisselkoers – en jy sal sien hoekom. Dis omdat ons geld se waarde so swak is!
2. Ouens wat wel gaan, is nie noodwendig ryk nie, hulle maak eenvoudig ‘n plan. Hulle spaar vooruit, hou fonds insamelings en werf hul eie borge voor die tyd – vir sou hulle kwalifiseer vir die span.
3. As jy somme maak, en inreken: retoer vlugte, Luukse bus vervoer, Hotel verblyf, Dag besoeke aan Disney World, Universal studios en talle ander bakens in Los Angeles en Hollwood – skets dit nogal ‘n ander prentjie!
Alles in Ag geneem, bly SACOPA steeds’ n wonderlike platform en ervaring! Kyk maar net na talle suksesverhale wat hier begin het!
Dus… Sien die groei en ervaring wat jou kind hieruit gewen het. Tel die balkies en toekennings wat die skole hier voor gee… En wees dankbaar vir die karakterbou ervaring.
Laastens… Die regering voorsien nie borgskap vir hierdie kulturele platform nie – so as ons as ouers nie self bereid is om ‘n plan te maak nie, wie sal dit dan vir ons kinders doen! Hoop jy verstaan nou beter en dink meer positief oor SACOPA!

Koos ·

Ek stem met ‘n mate saam met Anoniem, ons regering voel niks vir kunste nie (al het ons ‘n dept van kuns en kultuur) maar is ook verlig dat die regering nie bydra nie, want dan kan ek jou verseker dat die beste nie sal gaan nie.

Anoniem ·

Ek stem 100 persent saam met Anoniem. Ek us n enkelmamma met n hoogs talentvolle kind. Maar ek kan nie oorsese reise bekostig nie. Daarom neem my kind ook nie meer aan SATCH deel nie..want dis sooo teleurstellend as sy gekies word en sy kan nie Florida toe gaan nie.
Hartseerste is dis nou haar loopbaan…sy is nie net 10 jr oud en wil vir prestige oorsee gaan nie.

Lewe is maar uiters unfair. Maar so hoop ons die Here sal haar op die regte tyd op die regte pad stuur wanneer sy raakgesien sal word

Theresa ·

Gerrie, dis nie so maklik soos wat jy dit laat klink nie.
Mense wie borge kry is gewoonlik juis ryk mense wie die regte maatskappye en mense ken om hul kinders dan te kan borg.
Glo my ek het al borge probeer kry vir my kind se oorsese toere saam UP koor…en dis bitter moeilik. Dis maar wie jy ken en kringe waarin jy beweeg seker…wat weer daarop neerkom enkelouers kan nie kers vashou nie. Selfs baie twee ouergesinne kan nie.
Die gesegde ‘Money makes the world go round’ is ongelukkig so waar.

Ek dink die ervaring is goed met al hierdie tipe platforms MAAR dan moet jy n kind he wat bereid is om vd begin af te verstaan dat dit slegs vir sy ontwikkeling is vd self en niks anders. Want 1. Al is jy die beste as daar nie fondse is nie gaan jy nie verder in die tipe kompetisies nie en 2. Nee, baie skole gee geen erkenning nie en slegs erkenning vir skoolaktiwiteite.
Min kinders verstaan die 2 punte.

Dan is daar nog ouers wat hul kinders druk vir prestasie om goed te kan lyk. Ek meen wie skryf n 5 jarige in???

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.