Vaalrivier se boogie-snare van die Kannie Warries-dansorkes

Kannie-Warries-dansorkes

Die Kannie Warries-dansorkes. Foto: Facebook.

Hoewel die Kannie Warries-dansorkes reeds ʼn dekade lank in die musiekbedryf is, het hulle nog net twee albums vrygestel, naamlik Vaalrivier se wakker snare en Vaalrivier se opskop-snare, wat onderskeidelik in 2012 en 2014 verskyn het en benoem  is vir die Ghoema-toekenning in die kategorie vir Beste Boeremusiek-album.

Nou is hulle terug met hul derde album, Vaalrivier se boogie-snare en die vraag is of hulle op hierdie sukses kan voortbou. Die eerste snit op die album is “Switserland-vastrap”, ʼn komposisie van Gert Jooste.  ʼn Mens kom dadelik agter dat hul klank effens verskil van ander kitaargroepe soos Die Ventertjies  en Hennie de Bruyn en die Kitaarkêrels, in die sin dat daar ook ʼn banjo en tromme in hul musiek gebruik word.  Dit is dalk goed, want ʼn mens kan nie te veel met meer as net twee of drie kitare doen nie.

“Kliprivier-polka” is seker een van die bekendste Boeremusiek-komposisies tot nog toe, maar hulle speel dit stadiger as die gemiddelde Boere-orkes. Dit maak egter nie eintlik saak nie, want dit klink steeds baie goed. Die volgende snit is die eerste enkelsnit, naamlik hul weergawe van die tradisionele “Suikerbossie”. Weereens klink dit baie goed en ʼn mens hoop hul gewildheid sal as gevolg van hierdie snit, waarvan daar ook ʼn musiekvideo vervaardig is, toeneem.

“Antjie” is nog ʼn snit wat ʼn mens sommer gou op die dansvloer sal kry. Die eerste internasionale treffer wat op die album voorkom, is “Jambalaya”, wat deur Hank Williams geskryf is en onder meer deur The Carpenters opgeneem is.

“Suikerklontjie” is ʼn komposisie van die bekende kitaarspeler Solly Marx en Kannie Warries se weergawe daarvan is baie goed. Kannie Warries het twee van hul eie komposisies ingesluit en die eerste daarvan is “Janenetjie”. Die kitaarwerk op hierdie snit is besonder goed.  “Dagbreek-wals” is egter ʼn komposisie van die bekende Jan Brits. “Jan se boogie” is nog een van Jan Brits se komposisies en dit is dalk een van die lekkerste snitte op die album.

“Pretend” was oorspronklik ʼn treffer vir The Mavericks, maar dit moet nie met Alvin Stardust se rock and roll-treffer van die 1980’s verwar word nie. Die Shadows was seker een van die gewildste kitaargroepe tot nog toe en “Crossroads” was een van hul treffers.

“Karringmelkwals” is nog een van die bekendste Boeremusiek-komposisies tot nog toe. Dit is deur Dirkie Smit geskryf en onder meer ook deur Manie Bodenstein opgeneem. “Oh lonesome me” was oorspronklik ʼn treffer vir Don Gibson en hoewel dit die kortste snit op die hele album is, sal dit mense steeds aan die dans kry.

“Die lang pad huis toe” is die tweede nuwe komposisie wat op die album voorkom en weereens is die kitaarwerk daarop uitstekend. “Lente op die eiland” is eintlik oorspronklik bekend as “Galway bay”, maar die vraag is of dit regtig saakmaak. “Roos van Mooirivier se vlakte” is ʼn tradisionele komposisie wat hulle nuut verwerk het.

Die laaste snit is “Kitaar-boogie”, wat die Shadows ook al gespeel het.

Dit lyk asof daar ʼn oplewing in die gewildheid van kitaarmusiek is; hierdie album is een van drie wat die afgelope tyd vrygestel is en die gehalte van al drie albums is deurgaans baie goed.  Kannie Warries sal byna verseker vir ʼn Ghoema-toekenning benoem word en wie weet, dalk stap hulle hierdie keer met die toekenning weg!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jimmy Basson ·

Vaalrivier se boogie-snare gaan beslis vir die Kannie Warries Dansorkes n ghoema toekenning besorg. Veels geluk met hierdie besonderse album en baie dankie aan Maroela musiek

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.