Val vir my- Zurilda

Val vir myDie Afrikaanse musiekbedryf is deesdae vol kunstenaars wat die potensiaal het om baie gewild te word, maar nie die erkenning of die geleenthede kry wat hulle verdien nie.

Zurilda is een van verskeie opkomende kunstenaars wat die afgelope tyd op die toneel verskyn het, mar nie al die radiostasis is bewus van haar nie. Haar debuutalbum, Val vir my, is vroeër vanjaar uitgereik, en die vraag is of daar ‘n rede is hoekom sy nog nie so gewld geword het soos van die ander kunstenaars wie se musiek deur die groter radiostasies gespeel word nie.

Die titelsnit is deur Byron Kuntz geskryf, en gee ‘n mens ‘n baie goeie idee van wat om van die album te verwag. Hy is die vervaardiger van die album, en het onder meer ook aan Corlea Botha se eerste solo-album gewerk.  Swart is haar eie komposisie en dit was al ‘n treffer op minstens een gemeenskapsradiostasie. Dit is ‘n baie goeie snit, en dis maklik om te verstan hoekom dit gewild geword het. Waar jy gaan is een van die rustige snitte op die album, en dit wys dat sy tot meer in staat is as die opgewekte snitte wat hierdie een op die album voorafgaan. In Mense mors mwet hul emosies draai sy nie doekies om nie; hierin sê sy dat daar net soveel mense is wat seerkry in liefde as wat gelukkig is. Daar is net een vorm van slordige proefleeswerk op die CD-omslag; die word “ironies” word verkeerd gespel. In die melkweg is nog een van Zurilda se oorspronklike komposisies. Tydloos is amper ‘n tipiese Byron Kuntz-verwerking; daar is ‘n besliste dans-klank te hoor, en daarom behoort dit ‘n treffer te wees, veral onder jonger luisteraars. Die een snit wat die meeste belangstelling gaande sal maak, is haar weergawe van Laurika Rauch se groot treffer Stille waters. Gelukkig het Zurilda ‘n uitstekende opname daarvan gemaak; hier het sy die versoeking om dié liedjie ‘n oordonderende ritme te gee, weerstaan. Gewoonlik wil ‘n mens sien dat ‘n kunstenaar eerder sukses met oorspronklike musiek behaal, maar hier is ‘n uitsondering. Hierdie snit verdien beslis radiolugtyd, en behoort regtig ‘n treffer te word.

Die woorde van Verloor sal ‘n mens ‘n bietjie laat kopkrap, en dit is eintlik nogal slim. In liefde vergeef is ‘n baie mooi snit wat heelwat anders as die res van die album klink. Zurilda en Byron het A love so wrong nie net saam geskryf nie, hulle sing dit ook saam. As daar een snit is wat vir haar ‘n groot deurbraak kan wees, is dit hierdie een.  Op die radio is die laaste Afrikaanse snit op die album, en weer eens is dit ‘n moontlike treffer. The perfect crime is nog ‘n lekker danssnit wat byval onder jonger luisteraars sal vind, en die dansvloere sommer gou vol sal kry.

Zurilda het een baie belangrike voorsprong bo ander nuwe kunstenaars; sy het by die regte regisseur en vervaardiger uitgekom. Byron Kuntz het al verskeie kunstenaars se albums vervaardig, en elkeen daarvan was tot dusver baie goed. Dis jammer dat daar nog steeds radiostasies is wat nie bewus is van Zurilda nie, maar as en wanneer dit verander, behoort sy haar potensiaal in die musiekbedryf te verwesenlik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.