Valentynspiekniekkonsert by die Taalmonument Tuinteater

Foto: www.winelandsweb.co.za

Lus vir iets meer romanties as net rooi rose en aandete op Valentynsdag? Die bekende Paarlse sangeres Loren Erasmus, Idols-naaswenner Gift Gwe en hul vriende beloof ‘n spesiale Valentynsdag Piekniekkonsert by die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl op 14 Februarie.

Die vertoning begin om 19:30 in die Tuinteater – ‘n kleinboetie van die bekende Paarl Amfiteater – wat op die grasperk reg aan die voet van die monument geleë is. Ander kunstenaars sluit in die sanger Tye Platinum en die komediant Ashley Pienaar as seremoniemeester. Die konsert van 90 minute sluit Afrikaanse en Engelse romantiese ballades in.

Besoekers is welkom om hul eie wyn en piekniekmandjie saam te bring of ‘n spesiale Valentynsmandjie by Volksmond Koffiewinkel te bestel teen R280 vir twee persone, met vonkelwyn ingesluit (tel. 021 863 2800). Koffie, ligte verversings, wyn en bier sal te koop wees. Die Taalmonument Tuinteater Piekniekkonsertreeks word ten bate van die Taalmonument se Leesprojek aangebied.

Kaartjies, teen R60 per persoon is vooraf by die Taalmonument beskikbaar, asook by die hek. Plek is egter beperk. Bring ’n kombers, warm klere en ‘n flits saam. Veilige parkering is beskikbaar en toegang word beheer. Geen honde of vure word toegelaat nie. Indien die weer sleg is, word die konsert uitgestel.

Toekomstige piekniekgeleenthede by die Taalmonument sluit in: volmaanpieknieks (26 Januarie, 23 Februarie en 28 Maart), ‘n piekniekkonsert met die Superstars Klopse-troep (9 Maart) en sterrekykpieknieks (12 Januarie, 16 Februarie en 23 Maart). Vir verdere inligting oor geleenthede by die Taalmuseum of Taalmonument, skakel 021 863 4809/0543 of besoek www.taalmonument.co.za en www.facebook.com/afrikaansetaalmonument

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.