Van Coke en Jan Blohm sing oor ‘die toekoms’

Francois van Coke en Jan Blohm. (Foto: Verskaf)

Francois van Coke en Jan Blohm is albei bekroonde rocklegendes uit eie reg. Dié twee liedjieskrywers het nou kragte saamgesnoer om ʼn splinternuwe juweel tot die Afrikaanse musiekskatkis toe te voeg.

Die snit, getiteld “Die toekoms”, is vandag (Vrydag) amptelik uitgereik. Van Coke, wat bekend is om sy gereelde samewerking met ander groot name soos Karen Zoid en Jack Parow, sê hy het uit die bloute met Blohm kontak gemaak om ʼn liedjie te skryf en op te neem.

“My eerste herinnering van Jan was by die Geraas-toekennings in 2005,” onthou Van Coke, wat destyds die Afrikaanse musieklandskap stormgeloop het as voorsanger van die groep Fokofpolisiekar.

“Hy het ʼn klomp toekennings gewen vir sy debuutalbum Melkstraat Confessions. Fokofpolisiekar het die toekenning vir beste rockalbum gewen en ons albei het by dié geleentheid opgetree. Van daar af het ons mekaar oor die jare gegroet by shows, maar nooit vriende geraak nie.”

Hy vertel hy het Blohm op 19 Februarie vanjaar genader om te gesels oor ʼn samewerkingsprojek. “‘Die toekoms’ is gebore en ons is nou tjommies,” sê Van Coke.

“Jan sê ons eerste ontmoeting was op Oppikoppi in die boonste kroeg. Ek was dronk en het hom blykbaar ge-headbutt op sy rug. Gelukkig was hy bly om my te ontmoet en daar was geen vuisgeveg nie!”

Van Coke en Blohm beplan om “Die toekoms” op 18 September vanjaar saam regstreeks op te voer tydens die Francois van Coke en Vriende 2020-konsert, wat aanlyn aangebied sal word.

“Die liedjie gaan oor hoe die wêreld tans lyk en oor hoe die wêreld in die toekoms kan lyk,” sê Van Coke.

“En dat dit nie altyd belowend lyk nie, maar ʼn mens moet aanhou probeer om die beste mens te wees vir die mense rondom jou.”

“Die toekoms” is op alle digitale platforms beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Blikkantien ·

Klink goed. Baie goeie sangpaar kombinasie. Sal hulle eerder meer akoesties en rou iets hoor sing, hierdie klink te komersieël.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.