Van Coke: ‘My familie nou belangriker as musiek, partytjies’

Francois van Coke (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Die bekende Afrikaanse rocker Francois van Coke (39) se lewe het sedert die begin van Fokofpolisiekar in 2003 omtrent handomkeer verander na die familie- en sakeman wat hy vandag is.

Suid-Afrika het hom leer ken as die aweregse voorsanger van die rockgroep Fokofpolisiekar, maar vandag is hy veel rustiger en is sy familie vir hom belangriker as die musiek en enige partytjie.

“Toe ons met Fokofpolisiekar begin het, het ek in ʼn geel kamer gebly met ʼn matras, ʼn rakkie en ʼn paar tydskrifte, en dit is al wat ek besit het. So ek het niks gehad nie. Al wat ek wou doen, was musiekmaak en al wat vir my belangrik was, was om op die pad te wees, saam met vriende te kuier en ʼn party te hê.”

Sestien jaar later, en Francois het ʼn vrou, Lauren, en ʼn pragtige driejarige blondekopdogtertjie, Alex Lila, wat die ewebeeld van Francois is. Francois lyk sélf nie meer soos vroeër nie, sy hare is netjies gesny, hy lyk gesond en oor die algemeen gelukkiger.

“Alles het verander. Ek het ʼn familie, ek het ʼn huis waarin ek bly, waarvan ek hou. My familie het belangriker geword as wat musiek vir my is. Dit was nooit so vir my nie, musiek was altyd die belangrikste. Maar nou is daar iets beter in my lewe,” vertel hy aan Maroela Media.

“Ek is mal daaroor om musiek te maak, dit is my lewe. Maar die een downside van musiekmaak en toer is dat jy weg van jou familie af is.”

Tussen sy familielewe deur kry hy dit ook deesdae reg om saam met sy musiekgroepe, Die Gevaar en Fokofpolisiekar, op te tree, het hy ʼn ateljee, Van Coke Studios, én ʼn kroeg, Fokof Bar, oopgemaak. Hy was ook op die onlangse seisoen van The Voice SA te sien, waar Tasché Burger onder Francois se leiding dié kompetisie gewen het.

“Om ʼn kroeg te hê is een van daardie goed waarvan ons altyd in Fokofpolisiekar oor grappe gemaak het. Ons het allerhande groot drome gehad. Ons het altyd gesê ons gaan ʼn pynappelbier in ons agterplaas maak en by vertonings verkoop. Dit het nooit gerealiseer nie, maar jare later het ons ons eie bier, die Fokof Lager. Iemand het ons toe genader om die kroeg ook oop te maak, en hier is ons!”

Francois het ook plate vir die album ‘Dagdrome in suburbia’ uitgebring (Foto: Instagram)

Francois sê die Fokof Bar is ʼn plek waar hy graag sou uithang as hy na ʼn kroeg toe moes gaan. Die Fokof Bar is in Lynwood, Pretoria, maar Francois sê hulle sal graag nog een in Bellville, Stellenbosch of Kaapstad wil oopmaak.

Asof hy nie reeds besig genoeg is nie, het hy ook pas sy derde solo-album, Dagdrome in suburbia, bekendgestel.

“Dié album is vir my baie belangrik. Ek het hard gewerk, en saam met ʼn klomp verskillende mense gewerk. Die album is rock n roll maar ons het ook ander style, van country tot pop ingebring.”

Op die album sing Francois saam met mense soos Ricky Rick, Tasché, Hunter Kennedy en Spoegwolf.

“Die album gaan oor hoe dit is om in suburbia te woon. ‘Dagdrome in suburbia’ verwys na hoe ek gevoel het toe ek ʼn kind was. Ek het in suburbia, in Bellville, die noordelike voorstede van Kaapstad, grootgeword. En ek het gedroom van iets anders en meer as net die gewone, vervelige lewe. Ek het gedroom ek wou uitkom daar.”

Francois sê hy voel nie meer vasgekeer in suburbia nadat hy musiekgroepe begin het, gereis het en reg oor die wêreld opgetree het nie. Hy het vir 12 jaar in Kaapstad gaan bly, maar het teruggetrek na Bellville toe hy ʼn familie begin het.

“Die album het ʼn konneksie tussen my ou lewe in suburbia en my lewe nou weer dat ek terug is,” sê Francois.

Francois se vrou Lauren en hul dogtertjie Alex Lila (Foto: Instagram)

“Dit is ék, die album voel vir my so belangrik in my lewe dat ek voel asof mense van enigiets vergeet wat ek voorheen gedoen het as hulle hierna luister.”

Hy sê hy is en was nog altyd eerlik in sy musiek en wat hy skryf, maar dat dié nuwe album ʼn perfekte prentjie skets oor wat sy lewe op die oomblik is.

Francois het ook twee liedjies op sy nuwe album vir sy dogtertjie geskryf. “Dis al wat ek wil doen as ek by die huis kom – my familie sien. Ek gee nie om oor enigiets anders nie.

“Ander ouens het boys nights, maar ek het nie boys nights nodig nie, ek wil net by my familie wees,” sê hy.

Francois sê dit is vir hom die beste ding in die wêreld om ʼn pa te wees.

“Voor ek my dogtertjie vasgehou het, het ek nog net sowat twee babas vasgehou in my hele lewe. Dit is nie iets waaroor ek regtig ʼn verwagting gehad het nie. Dat ek moet kinders hê, was nooit ʼn droom wat ek gehad het nie, ek was eintlik half bang vir kinders kry. Maar dit het heeltemal verander toe ek haar [Alex] die eerste keer sien en in haar oë kyk.

Francois en Alex (Foto: Instagram)

“Dit is moeilik om te verduidelik, maar dinge verander. Jy besef haar lewe is belangriker as jou eie. Dit is die wonderlikste en moeilikste en coolste ding in die wêreld.”

Hy sê hulle twee doen alles saam, van in parkies speel tot rolprente kyk.

Francois sê hy kry darem nog tyd om ʼn “normale” mens te wees. Hy sê hy hou daarvan om rugby te kyk, en hy help met huistakies soos skottelgoedwas en om die swembad skoon te maak.

Hoewel dit moeilik is om te dink aan Francois van Coke wat ʼn swembad skoonmaak, het hy sowaar ontaard in ʼn liefdevolle pa, man en sakeman, wat mense dalk nie in sy 20’s sou kon indink nie. Ten spyte daarvan dat hy sy lang blonde hare laat vaar het en sy lewe nie meer so rof soos voorheen is nie, vloei rocker-bloed steeds deur sy are en is sy aanhangers self liewer vir hom as vantevore.

Dagdrome in suburbia is digitaal en in CD-winkels beskikbaar.

20 vinnige vrae aan Francois van Coke

Francois van Coke beantwoord Maroela Media se 20 vinnige vrae. Kyk hier hoekom hy nie daarvan hou om piesangs te eet nie!

Posted by Maroela Media on Monday, October 21, 2019

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Schalla ·

Guns don’t kill people – daddy’s with pretty little girls do! Ek weet presies hoe Francois voel en niemand beter my twee prinsessies enige leed aandoen nie. Ek kan sien dieselfde geld vir Francois. Verander mens se lewe handomkeer. Lekker man….. lekker….

Dogters ·

Dogters verander jou lewe handomkeer en dit na positief! Ek was nou nie in die musiek nie maar het absoluut ver sport en natuur gelewe. Op 28 het my ouers gedink ek salnooit tot trou of n verhoudiing kom nie. Welek is getroud en het twee absolute wonderlike dogters en sal hulle vir niks in die wereld verruil nie, nie eers vir die hoogste sport toekenningin die wereld nie. Wat egter nog lekkerder is, glo my, is dat elk van my dogters nou dertig jaar later elkeen ook n klein dogterjie het. Nodeloos om te se dat hulle my absolute bestaan is, en vir hulle is oupa ook baie belangrik, Sal nie die oggende kleuterskool toe gaan voor oupa nie gegroet en gou beeste gewys is nie, en sal ookn ie vannaand gaan bad voor oupa hulle nie die perde, beeste, bokke of ander diere gaan wys het nie. Geen Pa of Oupa kan vir grotter seen vra nie. Dit bring egter ook baie groot verantwoordelikheid mee.

Mike ·

Word regtig volwasse en vra om verskoning vir al die negatiewe dinge wat jy oor geloof en Christen-wees gesê het.

Tammer ·

Prachtige artiest die ook hier in Nederland veel belangstelling genoot. Zijn ballade met Karen Zoid was fabuleus en een briljant rustpunt in de muziekwereld van Nederland en Belgie die de laatste jaren hevig lijdt onder de terreur van keiharde Hollandse hiphop (Boef, Dopebwoy, Ronnie Flex, enzv).

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.