Van Coke se nuutste projek is ‘rou en raar’

Annie Klopper en Francois van Coke (Foto: Verskaf)

Eens was Francois van Coke ʼn langhaar aweregse tiener op die verhoog saam met sy rockgroep. Vandag is hy 40, ʼn pa van twee en gelukkig getroud, maar hy het steeds die rockerhart wat sy aanhangers so goed ken.

Van Coke vertel in sy nuutste geselsreeks 40 jaar Van Coke, saam met die skrywer Annie Klopper, stories van sy lewe soos die publiek dit nog nie gehoor het nie.

“Met hierdie geselsreeks openbaar Francois van Coke meer as ooit van sy lewe en musiekloopbaan. In tien intieme en onthullende gesprekke vertel hy aan Annie Klopper die stories wat hy net aan sy tjommies vertel; stories so rof dat hulle nooit by die media uitgekom het nie,” sê Louise Crous, Van Coke se bemarkingsbestuurder.

Francois vertel in die reeks ook hoekom hy nooit eintlik wou sing nie en ook die ware stories agter koerantopskrifte soos “Wie het Van Coke opgef*k” en “Coke soen man”.

“Die drank, die dwelms, sy eerste keer in die tronk, stories oor die liefde van sy lewe – sy vrou, Lauren – en hoe Die Antwoord vir haar verloofring betaal het. Dis Francois op sy hoogste en Francois op sy laagste – raar, rou, in diepte en ongesensor.”

40 jaar Van Coke vertel ook die storie van sy sukses: Hoe ’n dominee se seun uit die noordelike voorstede van Kaapstad ’n droom gehad het en hoe hy dit bereik het.

Die eerste episode is reeds beskikbaar en nuwe episodes kom elke Maandag om 20:00 uit, met die laaste episode op 26 April. Elke episode is tussen 60 en 80 minute lank. Kaartjies vir 40 jaar Van Coke kan hier op iTickets gekoop word.

“Begin van die einde” is Francois van Coke se eerste enkelsnit van 2021 (Foto: Verskaf)

Van Coke het ook pas sy eerste enkelsnit en musiekvideo vir 2021, “Begin van die einde”, bekendgestel.

Hy verduidelik dat die liedjie gaan oor “om te probeer om beter te wees in ’n tyd van disoriënterende verandering”.

“Begin van die einde” is deels geïnspireer deur Yuval Noah Harari se boek, 21 Lessons for the 21st Century. Van Coke het hierdie boek in Desember 2019 gelees en het bekommerd begin word oor die huidige toestand van ons tye.

Hy het die lirieke vir die liedjie in Februarie verlede jaar geskryf en, nie lank daarna nie, was Covid-19 in alle glorie met ons.

“Hierdie liedjie het sy draaie vorentoe en agtertoe geneem. Ek het dit amper geskrap, maar was te lief vir die lirieke om dit net te laat gaan. Ek het dit ’n paar keer herverwerk, dit akoesties gemaak, dit weer herverwerk en selfs die hele liedjie heropgeneem. Uiteindelik het ek die regte verpakking daarvoor gevind,” sê hy.

Kyk die musiekvideo vir “Begin van die einde” hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.