Van Coke: Solo-debuut skop stof in die lug

Foto: facebook.com

Foto: facebook.com

Francois van Coke se selfgetitelde solo-debuutalbum is sekerlik een van die topalbums vir 2016. Soos met sy Polisiekar-groep skop hierdie album reeds van die eerste lied af stof in die lug. Dis ’n fantastiese harderock-album wat elke aanhanger van rockmusiek moet hê.

Die album het ’n lekker Foo Fighters-aanslag en die groep kan dit ook staaf met hul lewendige optredes. Gillende aanhangers en groot skares is nie ongewoon vir Francois en sy groep nie. Hierdie ouens is maklik tans die beste optredegroep in die land. Hulle stel ’n goeie hoë standaard waarby ander orkeste kan baat vind. Die album is ook reeds vir drie Tempo-toekennings benoem. Francois het skoonskip gemaak by vanjaar se Ghoemas in elke kategorie waarvoor hy benoem is.

Maar dis natuurlik die vlagskiplied, “Toe vind ek jou”, van Francois en Karen Zoid wat groot aandag getrek het. Met 1,8 miljoen YouTube-kykers tot op hede is dit sekerlik die grootste enkelsnit wat Suid-Afrika in jare opgelewer het. “Neonlig” is nog ’n sterk enkelsnit wat saam met Heuwels Fantasties gedoen word. Hierdie lied trek ook reeds groot aandag op radio-speellyste oor die hele Suid-Afrika. Al die musiek en lirieke is deur Francois self geskryf met “Die Skip” wat saam met Laudo Liebenberg geskryf is. Hunter Kennedy van Francois se Polisiekar-faam het ook hand bygesit met “Hulle sê” en “Neonlig”. “Ek weet nie”, “Skree” en “Hulle sê” gaan ook sterk toekomstige enkelsnitte word.

Die album is by verskeie ateljees opgeneem en die produksie en verwerkings is van wêreldstandaard. Jedd Kossew, Francois se regterhand, doen briljante werk op die hoofkitaar. Dit is voorwaar ’n CD van internasionale standaard en afgesien van die taalgrens hoef Francois vir geen internasionale kunstenaar terug te staan nie. Die album kan saam met die heel beste internasionale rockmusiek geplaas word. Die CD is uitgereik deur Supra Familias en word versprei deur Coleske Artists.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Reinhardt ·

Vir seker die beste album van 2016. Die ander soogenaamde musiekante moet asseblief na dit luister en bietjie hard dink oor wat hulle doen, dit is in n klas van sy eie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.