Van Der Aven maak debuut met akoestiese Karoo-rockklanke

Die folk-rockgroep, Van Der Aven. (Foto: Dawid van Niekerk/Verskaf)

“Van Der Aven is my en my vrou se gunsteling‑ Suid-Afrikaanse musiekgroep. Hulle het oorspronklike lirieke, wonderlike melodieë en ’n ongelooflik aanslag. Hul nuwe album is perfek. Dis die beste Afrikaanse musiek wat ek al gehoor het. Punt.”

Só beskryf Danie du Toit, hoofsanger van Spoegwolf, die folk-rockgroep Van Der Aven se selfgetitelde debuut-kortspeelalbum wat pas op alle groot musiekstromingsdienste vrygestel is.

Dié multi-instrumentale groep se lede is almal in Karoo-dorpe gebore en getoë en bestaan uit broers Roelof en Theunis van der Merwe en hul vriend Paul Avenant.

Paul Avenant. (Foto: Dawid van Niekerk/Verskaf)

Hul eerste Afrikaanse enkelsnit vanaf dié album, “Heimwee”, speel tans op ʼn indrukwekkende lys van radiostasies en is gebore uit Roelof, die jongste Van der Merwe-broer, se internetsoektog na die Afrikaanse woord vir homesick terwyl hy tydens die inperking alleen in ʼn woonstel in Stellenbosch gebly het.

Hoewel die driemanskap reeds ses jaar lank saam musiek maak en deur ʼn wye verskeidenheid van musiekgenres beïnvloed word, het hulle met die album hul eie unieke stem as kunstenaars probeer vorm.

Daarom was die album se opname en samestelling volgens Theunis stadig en sorgvuldig aangepak.

“Dit was ʼn uitdagende en ’n taamlike lang proses om hierdie kortspeelalbum bekend te stel omdat ons seker wou maak dat ons met ons debuut die regte voet voor sit om mense te wys wie ons is en wat in ons as musikante steek.”

Theunis van der Merwe. (Foto: Dawid van Niekerk/Verskaf)

“Heimwee” se emotiewe en akoestiese styl weerklink in Van Der Aven se ander snitte, met die uitsondering van “Afskeid”, waar hul met meer alternatiewe klanke eksperimenteer.

Die groep is ook trotse ambassadeurs van hul tuisstreek, soveel so dat Paul hul styl as “Karoo-rock” beskryf.

“Die Karoo kan soms droog, stil en leeg wees, maar kan ook hard, asemrowend en diep wees. Ons streef om ons musiek ook so te maak,” voeg Theunis by.

Boonop pronk ʼn skildery van ʼn kenmerkende Karoo-berg op hul album se digitale omslag.

Die groep se albumomslag is deur ‘n familielid geskilder.

Dié prent is deur die kunstenaar Sarel Greyling – ʼn familielid van die Van der Merwes –  met klei geskilder en is ʼn interpretasie van die berg Spitskop wat net buite Murraysburg, Paul se tuisdorp, te sien is.

Die trio se album is ook kort op die hakke van hul eerste en ewe roerende musiekvideo bekendgestel.

“Ons het lank gewik en weeg oor wat ons wou doen met die verfilming van ‘Heimwee’ se musiekvideo, maar op die ou end het ons net twee versoeke gehad – ons moet daarin wees en ons moet goed probeer lyk,” sê Theunis skertsend.

Roelof van der Merwe. (Foto: Dawid van Niekerk/Verskaf)

Hugo Brand het vir “Heimwee” visuele lewe gegee deur die drie Karoo-manne teen verskeie beeldskone Bolandse natuurtonele af te neem.

Roelof se ou 1978 Jaguar XJ6, oftewel “Layla”, maak ook ʼn verskyning, maar is volgens Theunis nie die mees betroubare vervoermiddel nie.

“Die kar se naam kom van Eric Clapton se bekende lied ‘Layla’ aangesien Roelof ook gereeld sy Layla moet smeek om te werk,” sê hy tergend.

Van Der Aven vier hul album se bekendstelling eerskomende Vrydag by die Daisy Jones Bar in Stellenbosch. Jacob Swann open die geleentheid as gaskunstenaar en daar sal verversings by die venue te koop wees.

  • Aanlyn kaartjies beloop R120. Daar sal ook kaartjies teen R150 by die deur te koop wees. Koop nou jou kaartjies hier om teleurstelling te vermy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.