Van omstrede rocker na Afrikaans se goue seun

Francois-en-Lauren

Francois en sy swanger vrou, Lauren Badenhorst, saam met hulle geliefde hond Ringo op Langebaan. Foto: Instagram/Francois van Coke

Francois van Coke daag alleen op. Sonder ʼn entourage. Nét die legendariese musikant homself. Die ontvangsdame se stem is soos heuning toe sy my laat weet: “Francois is hier om jou te sien.” Hy het haar duidelik reeds met sy sjarme uit haar sokkies uit bekoor.

My hart klop hard in my bors; dis ʼn intimiderende storie dié. Ek bedoel, dis Francois van Coke. Hy spring weg met ʼn staaltjie van ʼn vriend se baskitaar wat hy op die lughawe vergeet het en hoe hy sleg voel daaroor, want dit was sy verantwoordelikheid om die kitaar te neem. “So ek moet net gou ʼn e-pos stuur, asseblief?” vra hy beleefd.

Pa-word en ander lewenslesse

“Dit was nie my grootste droom die laaste 10 jaar om pa te word nie, maar sedert ek en my vrou so twee jaar gelede besluit het ons wil kinders hê, het dit baie vinnig verander. Vandat Lauren swanger is, is dit iets wat soos ʼn openbaring vir my was. Ek was nooit opgewonde om ander mense se babas vas te hou of met kinders te speel nie, maar dit het ook baie verander. Nou, as ek byvoorbeeld ʼn baba sien op die vliegtuig, dan dink ek hy lyk oulik en ek besef as hulle huil, dit gaan met my ook gebeur en ek gaan ook my kind moet probeer stil hou op die vliegtuig,” lag hy.

“Dis nou so vier weke voordat ons dogtertjie haar opwagting moet maak en ek glo ek is ook nou die meeste reg vir iets wat ek ooit in my lewe was,” glimlag hy. “Ek is baie opgewonde.”

Die omstrede rock-ster van die groep met die gewaagde naam, het sedert 2003 tot nou, verander in ʼn soet seun wat goud werd is vir die Afrikaanse musiekbedryf. Selfs die tannies wat destyds hul kinders teen Francois en sy musiek gewaarsku het, is nou aanhangers. “Dit is baie vreemd en beslis nie doelbewus nie,” skaterlag hy.

“Niemand het my nog ooit ʼn goue seun genoem nie, maar dankie daarvoor,” sê hy skaam.

“Die manier hoe ek dink, is nog baie dieselfde as wat dit destyds was toe Polisiekar net begin het, maar in terme van grootword en ouer word, rigting kry… het ek beslis verander. Destyds het dit net vir my gegaan oor toer, musiekspeel so hard en goed as moontlik, so hard as moontlik partytjie hou om my vryheid aan myself te bewys. Daai goed is heeltemal anders.

“Ek dink nie ek het destyds omgegee vir enige iemand, insluitend myself, nie. Nou het ek ʼn vrou en ek gee baie om vir haar.”

Toe vind ek jou

Dit is ʼn jaar en ʼn half sedert die Afrikaanse ballade, “Toe vind ek jou”, die klankgolwe met mening getref het en met meer as 2 miljoen trefslae op YouTube, is dit veilig om te sê dié liedjie was ʼn wegholsukses was vir Francois en Karen Zoid.

Hy weet nie hoekom “Toe vind ek jou” so opgeblaas het nie, sê Francois eenvoudig. “Almal vra dit en dis so moeilik om te antwoord,” lag hy. “Ek sê vir mense dis omdat dit ʼn eerlike liedjie is, want ek het deur iets gegaan in my persoonlike lewe en ek wou dit verwoord om vir my vrou, Lauren, iets te sê, maar ek wou dit in liedjievorm doen.

“Ek dink ook nie mense het ʼn ballade van my en Karen verwag nie en die musiekvideo het dieselfde dag as my solo-album uitgekom, dus dink ek al daardie faktore het saamgewerk om die liedjie te maak wat dit is,” vertel hy.

“Karen het baie gehou van ʼn Van Coke Kartel-liedjie met die naam ‘Tot die son uitkom’, wat ook ʼn ballade is wat ek vir my vrou geskryf het,” gesels Francois. “Ek en sy het dit saam op haar televisieprogram, Die Republiek van Zoid Afrika op kykNET, gedoen en die publiek het baie daarvan gehou. Dis waar ek en sy begin gesels het oor die moontlikheid om ʼn liedjie saam te skryf.”

Hy sê Karen het hom baie gehelp om goed te verwoord wat hy nie noodwendig sou gesê het as hy dit op sy eie geskryf het nie. “Ek het eintlik net ‘geen pretensie, geen beheer’ en ‘vanaand vir die eerste keer’ in my kop gehad en toe het ons dit van daar af uitgebrei,” verduidelik hy.

“Ek is nie seker hoeveel keer ek dit al moes sing nie, ek hou nie telling nie,” lag hy. “Daar is liedjies wat ek al vir baie langer sing. Daar is ʼn Polisiekar-liedjie wat ek nou nog sedert 2003 by elke Polisiekar-vertoning doen en al vereenselwig ek nie meer persoonlik met die liedjie nie, maak die mense se reaksie wanneer ek dit sing, dit nog steeds die moeite werd. Dit is presies dieselfde met ‘Toe vind ek jou’. Dis seker een van daai liedjies wat ek vir ewig sal speel,” vertel hy nederig.

Hy stem saam dit moet besonders wees om die vrou agter “Toe vind ek jou” te wees. “Lauren het dit eers gehoor toe dit klaar opgeneem en dit finaal gemeng is,” sê hy oor haar reaksie toe sy dit die eerste keer hoor.

“Sy het in trane uitgebars! Gewoonlik speel ek vir haar nuwe goed soos ons aangaan met die skryfproses, maar dié een het sy eers gehoor toe dit heeltemal klaar was. Ek het nog nie baie liefdesliedjies geskryf in my loopbaan nie, maar die wat geskryf is, is vir haar en ek is bly dat sy van ‘Toe vind ek jou’ gehou het,” lag hy uitbundig. “Dit sou beslis nie lekker gewees het as sy gedink het die liedjie is net oukei nie!”

Hierdie is die lewe

Francois se tweede solo-album sien in Februarie aanstaande jaar die lig. “Ek het die titel vir die album uit ʼn lied op die album gevat, wat sê ‘hierdie is die lewe, ons word gebore, ons gaan dood’ en dus is dit nie noodwendig ʼn positiewe ding nie. Dit kan positief of negatief geïnterpreteer word. Mense sê maklik opgewonde ‘hierdie is die lewe’ as dit goed gaan, maar as dit sleg gaan, sê hulle ook, ‘ag wat, hierdie is maar die lewe’,” verduidelik hy.

“Ek is nou die gelukkigste wat ek nog ooit was in my lewe, daarom is dit dalk die lewe vir my.”

Styl-gewys is die nuwe album redelik dieselfde as sy vorige self-getitelde solo-album. “Dit is nog steeds ʼn rock-album met alles wat my beïnvloed het deur die jare, van punk tot folk tot country tot hip hop. Ek het in die laaste jaar of so baie na ou pop musiek soos die Beatles en die Beach Boys geluister en ek dink dit het ʼn groot invloed gehad op die melodieë en harmonieë wat gebruik word op Hierdie is die lewe.

“Ek het hierdie keer met ʼn vaste orkes gewerk en daarom was die proses baie makliker. Die onderwerpe waaroor ek sing, is miskien nog baie dieselfde. Dit gaan oor introspeksie en hoe ek goed ervaar, soos goed wat in Suid-Afrika gebeur en hoe dit my persoonlik beïnvloed.

“Ek het ook meer oor liefde begin skryf op die album, want ek het met ‘Toe vind ek jou’ besef mense vind makliker aanklank met liefde as met iets soos ‘hou party deur die nag’ of ‘tiener-angs’,” lag hy. “Ek dink in die laaste paar jaar het ek ook vir die eerste keer begin aanvaar iemand is lief vir my, ek het daarteen baklei vir baie lank in my lewe.”

Hierdie keer het Francois ook met niemand buiten sy groep gewerk nie. “Ek het net gevoel ons het dit op die vorige een gedoen en ek het nou lank saam met dié ouens gewerk en ons het baie lekker saam geskryf. Ek het hulle ‘Die Gevaar’ gedoop en daarom is ons Francois van Coke en Die Gevaar wanneer ons optree.”

Hy sê die album het baie goeie liedjies op, omdat hy en sy groep lank gewerk het daaraan om die beste moontlike liedjies te skryf. “Daarom is ek baie opgewonde om dit uit te gee.”

As jy bekommer gaan jy dood

Francois is tans op ʼn landswye toer genaamd, “As jy bekommer gaan jy dood”. “Op hierdie toer speel ons die eerste enkelsnit wat van my volgende album af kom,” verduidelik hy trots. “Die lied se naam is ‘Mensdom’ en dit is baie opwindend om iets nuuts te speel vir die eerste keer in ʼn jaar en ʼn half. Ek sien uit na die klompie vertonings, want dit is ook my laaste toer wat ek doen voordat ek pa word.

“Ek dink van die volgende toer af gaan ek nog meer huis toe verlang. Toe ek 23 was en niks gehad het nie, was dit baie lekker om op die pad te gaan, want ek kon saam met my tjommies kuier, elke nag partytjie hou en in plekke bly wat beter is as wat ek gehad het by die huis. En nou is ek getroud en besig om met ʼn gesin te begin. Die laaste paar jaar was dit, soos dit is, reeds ʼn bietjie moeiliker om weg te gaan van die huis af, maar dit is hoe ek my lewe maak.

“Dis moeilik om weg te gaan, maar dis altyd ook baie lekker om terug te gaan huis toe. Dis nou die laaste een sonder ʼn baba in die prentjie, daarom gaan dit dalk nog moeiliker wees as nou.”

Die enkelsnit “Mensdom” word op 10 November beskikbaar gestel vir die publiek. “Die liedjie gaan oor die menslike toestand en die beheer wat die mens uitoefen op die wêreld rondom hom en hoe ek mens is en menslik voel. Dit is bietjie van ʼn sarkastieste uitkyk op die mens. Die koor sê ‘mensdom, ons raak nie jonger nie’. Ek dink ons almal besef dit tog,” sê Francois.

Toe ons klaar gesels het, groet hy en bedank my opreg, met dieselfde deernis as wanneer hy oor sy vrou praat. By die deur druk hy weer die ontvangsdame se hand. Toe hy weg is kyk sy na my en sê: “Sjoe, wat ʼn oulike kind! Hy kan maar enige tyd weer kom!” Hy wuif weer vir my by die deur en ek weet met absolute sekerheid: by Francois van Coke is daar régtig geen pretensie nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Zonique ·

Mal oor hom! Elke liedjie van begin tot einde het altyd ‘n bedoeling en altyd iets wat jou hartsnare roer. Toe vind ek jou was die eerste dans op my troue oor dit ons verhouding presies beskryf het en ek is ‘n helse groot Karen Zoid fan ook so die liedjie is no1 op my Playlist!
Francois se musiek is darem vir ‘n slag nie kommin soos ander Afrikaanse sangers s’n nie. Sy lewe nie vol drama nie en regtig net ‘n down to earth ou!

Verstom ·

Goue seun, nee wat….was nog nooit en sal ook nooit wees nie!

D B. ·

Dis ‘n goeie berig wat stylvol geskryf is. Nou kom jy met jou snedige snotterige aanmerking. As jy niks goeds het om te skryf nie bly dan eerder stil en hou jou suur bitter komentaar vir jouself.

Johan 2 ·

FPK is die rede hoekom ek nog in SA is! Hulle het ons deur n baie wanhopige tyd gehelp…Al my respek aan die bende, en mag hul vyhande voor hul val terwyl hul nie net goeie musiek maak nie maar ook n baken van hoop vir ons geslag bly… “Verstom” hou maar by jou “kommersiële” oom se motorkar musiek wat niks vir ons geslag beteken nie…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.