Van Ska-rumba tot Hambamba

Juanita-du-Plessis-02

Juanita du Plessis. Foto: Facebook.

Een van die suksesvolste Afrikaanse sangeresse van alle tye het vandeesweek haar 45ste verjaardag gevier.

Juanita du Plessis is op 26 April 1971 in Gobabis in Namibië gebore; hier is ’n oorsig van ’n aantal van haar hoogtepunte.

Net nadat sy haar tweede album, Ek en jy, voltooi het, het haar broer, Pieter Naudé, die liedjie “Ska-rumba” ontdek en nuwe woorde daarvoor geskryf. Dit is as bonussnit ingesluit, en in 2001 uitgereik. Die aanvraag na Juanita se musiek het tot so ’n mate gegroei dat sy in daardie jaar besluit het om haar geboorteland vir Pretoria te verruil.

Die een treffer na die ander het gevolg; veral die titelsnit “As jy eendag van my hou”. Die volgende jaar volg sy dit op met Dis waar ek wil wees, met die treffer “Patayo”, ’n kombinasie van “Badayo” van Dr. Victor and the Rasta Rebels en “Meisie sonder sokkies” van David Kramer. Nog ’n snit wat sukses behaal het, was die Steve Hofmeyr-komposisie “Amajuba”. Met haar volgende album, Jy is, haal sy vir die eerste keer die nr. 1-posisie op RSG se Top 20, gebaseer op werklike albumverkope. Benewens die treffers “Lepellê”, “Bulle bo” (sy is ’n uitgesproke Blou Bul-ondersteuner) en “Bosveld”, bevat hierdie versameling ook ’n afsonderlike CD met die treffers van die Nederlandse groep Pussycat.

In 2004 slaan Juanita ’n nuwe rigting in haar loopbaan in deur haar eerste Christelike album, Altyd daar, uit te reik. Die titelsnit en “In die hemel” was haar eie komposisies, maar onder die bekende snitte wat sy ingesluit het, was “Houtkruis” van Prophet, “Huise van glas” van Herman Holtzhausen, “Die heel beste rede” van Piet Smit en Danie Botha en “The great adventure” van Steven Curtis Chapman.

Juanita se volgende album, Bly by my, het byna onmiddellik ’n topverkoper geword. Benewens die titelsnit, wat weer eens ’n treffer geword het, was “Ons belofte aan mekaar”, wat sy vir haar man geskryf het, ’n hoogtepunt. Juanita het egter nie vergeet van haar aanhangers wat haar minder ernstige liedjies verkies nie, en “Tingeling” het ’n groot gunsteling geword. Saam met hierdie album was daar ook ’n tweede CD met ’n paar country-treffers, soos “Somewhere between”, waarop Steve Hofmeyr saam met haar gesing het.

Juanita het op haar album Jou skaduwee die duet “Bring jou hart” saam met  Theuns Jordaan ingesluit. Dit het dadelik gewild geword en hulle het saam begin optree. Nog ’n snit waarop sy saam met iemand gewerk het, was “Styf vas”, waarop die Campbells saam met haar gesing het. Anders as op haar eerste Christelike album, Altyd daar, het die volgende een, Vlieg hoog baie van haar eie komposisies bevat, en veral “Ons Koning kom” het by oud en jonk byval gevind. Met haar volgende album, Volmaakte kring, het sy weer die kol getref met “Mengelmoeskardoes”, wat die dansvloere vinnig vol gekry het.

Juanita en Theuns moes seker een of ander tyd ’n duetalbum opneem, en “Bring jou hart” was die titelsnit daarvan. Daar is ook ’n opname van die konsert op DVD uitgereik. Hierdie album het nie net treffers van hulle albei bevat nie, maar ook hul weergawes van ou gunstelinge. Een van Juanita se suksesvolste albums was Engel van my hart, wat die treffers “Wit vlag”, “Jou Volla” en die Rudi Claase-komposisie “Tussen woorde” ingesluit het.

Juanita se trefferalbum 10 jaar platinumtreffers het in 2011 verskyn, om haar dekade in die musiekbedryf te vier. Dit het uit twee CD’s bestaan; een met haar danstreffers en een met haar meer ernstige liedjies. Met Wees lig het sy weer eens bewys dat sy Christelike musiek met ewe veel oortuiging as kommersiële musiek kan sing.  Nadat sy en Theuns nog ’n duetalbum, getiteld Hart vol drome uitgereik het, het Juanita waarskynlik haar beste album tot dusver, Jy voltooi my, vrygestel.

Twee van haar kinders, Ruan en Franja, het saam met haar op “Kaalvoetkind” gesing, en bewys dat hulle beslis hul ma se talent geërf het. Onder die ander treffers was “Om jou pinkie”, “Huppel” en “Pot se deksel”.

Met haar nuwe album, Toe staan die wêreld stil, het sy weer die kol getref, veral met “Lief vir jou” en “Hambamba”; in die “Ska-rumba”-tradisie. Teen die tyd wat hierdie artikel geskryf is, was die titelsnit in die eerste plek op Groot FM se Groot 20, nadat “Hambamba” die algehele toptreffer van verlede jaar was.

Dit lyk asof die Du Plessis-treffermasjien net nog verder momentum gaan kry wanneer Ruan en Franja eindelik tot die musiekbedryf gaan toetree, maar dit is te vroeg om te sê of hulle dit saam of afsonderlik gaan doen. Intussen wag ons om te kyk wat om volgende van Juanita te verwag. Dit gaan nie noodwendig ’n kommersiële Afrikaanse album wees nie!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

thea ·

Juanita se musiek in die begin was baie goed, maar die laaste cd was maar baie verveilig,ek
het al haar cd’s en die laaste een was die swakste. hambamba regtig swak. sy is n goeie sangeres maar sy moet n vernuwing doen . Kom Juanita jy kan

Koos ·

Ek het so n idee dat afrikaanse woorde vir liedjies opdroog Juanita kan bly maar rerig daar het sangers van erens uitgebroei wat ons Taal en musiek g@t maak. Los musiek maak vir mense wat kan

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.