Van suksesvolle sakeman tot sanger

Etienne-Smit

Etienne Smit. Foto: Etiennesmit.com

Wat motiveer ʼn suksesvolle sakeman om sy onderneming op 35-jarige ouderdom te verkoop om ʼn loopbaan in musiek na te jaag, veral nou wanneer dit moeilik gaan in die musiekbedryf?

Etienne Smit sê dit is passie, geloof en die wil om jou droom uit te leef, maak nie saak wat gebeur nie. Dit is die boodskap wat hierdie nuwe Afrikaanse minnesanger wil oordra.  Wanneer jy hom ontmoet, besef jy dat musiek die ritme van sy hart is.  Hy is ʼn warm, vriendelike en positiewe gesinsman wat nog baie gewild onder Afrikaanse musiekliefhebbers gaan word.

Toe Etienne besluit het om sy droom as sanger na te jaag, het hy seker gemaak dat hy hom met die beste in die musiekbedryf omring.  Emil Struwig is ʼn ervare liedjieskrywer en een van sy komposisies, “Hemel in jou oë” het onlangs die top 26 in die Afri-Visie-liedjieskryfkompetisie gehaal. Emil het sewe van die snitte op Etienne se debuutalbum, Ritme van my hart, geskryf.  Onder Emil se komposisies op die album is “Sonder jou”, die eerste treffersnit,  “Alles onder die son”, ʼn lekker positiewe snit wat die dansvloere gou sal volmaak en “Wat ʼn pa nie sal doen” , wat byval sal vind by enige pa van ʼn seun.

Sy vokale leermeester is niemand minder nie as Amanda Luyt, wat al ʼn paar albums vrygestel het. Hy het baie by haar geleer en hy sê hy slurp haar raad soos ʼn spons op.

Etienne is vasberade om ʼn sukses van sy musiekloopbaan te maak en sal met niks minder as die eerste plek tevrede wees nie. Hy is bereid om alles te gee om dit te vermag en daarom is hy ʼn kunstenaar wat dopgehou moet word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Neptunus ·

Ja, hy sal heel waarskynlik baie gewild word onder (sekere) Afrikaanse musiekliefhebbers.

Baie diep…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.