Vars uitgekerf- Kaleidoskoop

kaleidoskoop - vars uitgekerfDaar is deesdae so ‘n oorvloed Afrikaanse kunstenaars dat ‘n mens wonder of daar hoegenaamd enigiemand is wat met ‘n oorspronklike aanslag vorendag kan kom.

Kaleidoskoop bestaan uit Jouba en Anique Jordaan, wat glad nie familie van mekaar is nie. Hoewel die groep al sedert 2006 bestaan, het Anique eers in 2009 by die groep aangesluit. Kaleidoskoop se jongste album, Vars uitgekerf, is onlangs uitgereik . Met die eerste snit, Mieliepapseun, waarop Jouba voorsing, kom jy al agter dat jy met iets oorspronkliks te doen het. Soos die meeste snitte op die album het Jouba dit gekomponeer. Die titelsnit van die album was die eerste treffer, en dit is maklik om te verstaan hoekom. Die lirieke is regtig iets besonders, en baie beter as die oppervlakkige snert waarmee sommige kommersiële kunstenaars vorendag kom.

All I want is you is een van net twee Engelse snitte op die album; Anique sing voor, maar Jouba se harmonieë en Ben Ludik se trekklavierspel maak dit iets besonders. Dit is net jammer dat dié snit so kort is. Nog ‘n snit wat meer om die lyf het as die gemiddelde radiotreffer is Genadereën, en dis goed dat hierdie snit ‘n effense Christelike aanslag het. Taxikaartjie, waarop Anique voorsing, is nog ‘n hoogtepunt vanaf die album, maar weer eens is dit ‘n jammerte dat dit so kort is.

Nog ‘n snit met uiters slim lirieke is Dagdroom-sindroom, en vir ‘n verandering kan ‘n mens die bietjie Engels wat in dié snit voorkom, vergewe omdat dit eenvoudig pragtig is. Engiemand wat lief is vir koffie sal van Bittersoet van koffie hou; hierin sing hulle van ‘n verhouding tussen twee mense wat gereeld saam koffie gedrink het, uitmekaar gegaan het maar toe weer by mekaar uitgekom het. Weer eens is die lirieke baie slim; hierdie snit sal byval vind by diegene wat hou van lirieke met iets om die lyf.

Die volgende snit is een van die liedjies van die jaar. Roadtrip verwoord die versugting van enigiemand wat moeg is vir die gejaagde alledaagse lewe en net wil wegbreek, baie goed, en verdien om ‘n groot treffer te word. Die musiekvideo van hierdie snit verskyn onderaan. Verwag die dag is die laaste Afrikaanse snit op die album, en weer eens een van Jouba se oorspronklike komposisies. Die laaste snit is ‘n verrassing: hulle het ‘n voorsmakie van hul DVD, Acoustic covers, gegee deur The Cranberries se treffer Zombie op te neem. Kaleidoskoop se weergawe is baie beter as die oorspronklik, en ‘n mens kan veel eerder na Anique se stem as na dié van The Cranberries se hoofsangeres, Dolores O’Riordon, luister.

Die enigste probleem met hiedie album is dat dit effens kort is. Hoe ook al, dit is beslis die moeite werd vir enigiemand wat van goeie akoestiese musiek hou. Dit is heel moontlik een van die beste Afrikaanse albums van die jaar en kan baie sterk aanbeveel word!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.