Veels geluk, RSG!

RSG

Die nasionale Afrikaanse radiostasie RSG vier Vrydag 80 jaar van Afrikaanse radio.

Die stasie se amptelike feesviering het reeds op 6 Julie begin met ʼn reeks van 13 weeklikse episodes oor die “onverskrokke held” Staal Burger.

Dié stasie het die afgelope tyd teruggekyk op sy groei en die groot verskeidenheid programme oor die afgelope agt dekades.

“Die wêreld lyk in 2017 beduidend anders as in 1937. Toe was kommunikasiemedia beperk en die koms van radio – in Afrikaans – het mense se wêreld verander. Nou is die keuse van media byna onbeperk, maar tog is radio steeds met ons om mense te vermaak, op te voed en in te lig, deesdae oor landsgrense en vastelande heen,” lui ʼn verklaring van die stasie.

Hierna kan jy vandag deur die loop van die dag uitsien:

Die Oggend op RSG-span, onder leiding van Johan Rademan en Martelize Brink, bring ʼn baie spesiale Vrouerubriek-program uit argief aangesien dié spesifieke episode ook ʼn 20ste verjaardagprogram was waarin vele oud-omroepers en medewerkers gesels oor hulle bydrae tot dié program. Audrey Blignaut en Monica Breedt is onder meer hierin te hoor.

As deel van sy verjaardagviering sal die Kaapse ateljee op 27 Oktober propvol mense wees wat vroeër jare by Afrikaanse radio betrokke was, onder andere Antoinette Duvenhage, Dawid van Lill, Marius du Plooy wat Uitspan op die Hollandse werf en Monitor aangebied het, en Susan Voormolen.

Magdaleen Krüger, RSG se stasiebestuurder, sal kort ná die 12:00-nuus – tydens die Middag op RSG-program – haar spesiale boodskap en gelukwensing aan al die luisteraars lewer.

Die feestelikheid gaan voort met musiek en gelukwensings van verskeie bekendes wat spesiaal vir RSG gestuur is. Die verjaardag word daarna afgesluit met argiefmateriaal van Saterdagspieël, wat tydens Oppiradio om 20:30 uitgesaai sal word. In dié program gesels Fanus Rautenbach met Rudi Neitz en sy vrou oor die lewe van ʼn kunstenaar, en hoe dit sy familie en persoonlike lewe beïnvloed.

Vier luisteraars staan ook die kans om ʼn wegbreeknaweek te wen. Dié kompetisie sluit op Vrydag 3 November om 12:00. Meer inligting is beskikbaar op RSG se webwerf.

Luisteraars kan deur die loop van die dag boodskappe aan die stasie te stuur deur middel van Twitter. Jou Twiet moet gestuur word na @zarsg en die hutsmerk ‘#80Jaar’ bevat. Jy kan ook ʼn SMS stuur na 45770 (R1.50 per SMS).

Vir meer inligting en ander 80 Jaar-programme besoek die RSG-webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.