Verkeerdevlei

The Buckfever Underground se nuwe album, Verkeerdevlei, is in Augustus vrygestel.

Die album ontvang lof uit alle oorde. Pieter Redelinghuys van Die Burger skryf: “Na my mening is The Buckfever Underground Suid-Afrika se mees onderskatte groep. Hulle is nie wannabes, hipsters of watter eendagvlieg ook al die jongste gier is nie. Die inhoud is opreg, by uitstek oorspronklik en bowenal verruklik mooi as jy geduldig luister.” Klik hier om meer te lees.

Die Mail & Guardian bevestig ook dat The Buckfever Underground hul “kultstatus” verdien. Klik hier om meer te lees.

Verkeerdevlei het 14 snitte, briljant geskryf deur Toast Coetzer. Toast is joernalis, fotograaf, rocker en skrywer en verantwoordelik vir die “vocals” op die album. Buiten Toast bestaan die groep uit Gil Hockman (baskitaar), Righard Kapp (kitaar), Stephen Timm (dromme) en Jon Savage (klawerbord).

die somber wou swiep oor die buurte van die stad
Kigali lê oor die heuwels
Kigali lê onder rook
motorfietse en oggendmis wat raas en toet en soen

die somber wou sweef ver weg van die ander woue
wat oor die sokkerstadion sirkel
wagtend op ‘n wedstryd
maar vandag is daar net weerlig
en vanaand speel Sean Paul

die somber wou kyk weste toe oor die landskap
groen van reën
piesangplantasies kassava mielies millet plantaines koffie en tee
dit alles kom hier uit die grond
dit alles bring mense na die mond
en slaap dan met ore in die aarde na die wortels se gesuis gedraai

die somber wou kyk af na Kibuye se sirkelpad
van die busstop tot die kerk
waar 10 000 mense verkap vermoor en van menswees moes kom leer
en net enkeles se gebeendere wit in die vertoonkas sou kom rus

die somber wou weet reeds van hoe stil die klipvloer nou blink onder houtbanke slaap
en dat daar voor die altaar vars blomme in vase staan
waar ou vrouens kort-kort hul gebede kom laat gaan

die somber wou voel wind oor die blou waters aan die meer en Kivu-eiland wink
in die Kongo ken hulle van vermink
bierbote verlaat die hawe
hoog gelaai en rooi van krat
vissermanne roep en sing
roep en sing vrolik oor hul vangs
daar is vreugde in hul longe
vir nou is daar vrede hier
en hulle lewe hulle lewe
hulle lewe

die somber wou het al lankal ophou huil oor sy maat
sy is lankal reeds deel van die stof in ‘n Kigali agterstraat
die somber wou huil nie
die somber wou lag nie
die somber wou huil nie
die somber wou lag nie

die somber wou bly somber
die somber wou bly somber
en die nagkombers ontmoet hom
en hy daal af om te kom slaap

die somber wou huil nie
die somber wou lag nie
die somber wou bly somber
die somber wou bly somber
en die nagkombers ontmoet hom
en hy daal af om te kom slaap

Klik hier om The Buckfever Underground se Facebook-blad te besoek.
Klik hier om The Buckfever Underground se webwerf te besoek.

Die album kos R130 (posgeld in Suid-Afrika ingesluit).
Koop die album digitaal hier of bestel die album deur ‘n e-pos na [email protected] te stuur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.