Veteraan-aktrises gereed om kragtoer by Hessequa Harmonie te lewer

Antoinette Kellermann in “Die oerkluts kwyt”. (Foto verskaf)

Met Heidelberg, Wes-Kaap, se beeldskone natuurlandskap en ryk geskiedenis as agtergrond, beloof die sesde Hessequa Harmonie-fees om kunsliefhebbers vanjaar op van die beste aanbiedings te trakteer. Die fees word van 19 tot 23 September aangebied.

“Ons is opgewonde om groot name van ons land se musiek-, teater- en boekkringe te verwelkom en die pragtige dorp en omgewing as verhoog te gebruik om mense deur middel van musiek en kuns saam te bring en te inspireer,” sê Niël Rademan, die uitvoerende hoof van die fees.

Op die toneelfront is daar ʼn uiteenlopende aanbod waarna feesgangers kan uitsien. Dit sluit die teaterverwerking van Hans steek die Rubicon oor, Athol Fugard se Boesman en Lena, Ongebonde en Teen wil en dank in.

In Ongebonde en Teen wil en dank bring Amanda Strydom en Antoinette Kellerman, twee van Suid-Afrika se voorste verhoogaktrises, hoogtepunte uit hulle afsonderlike loopbane na die verhoog.

Niël meen dat Amanda die kuns van lag-met-ʼn-traan ken en dat sy deur haar toneelspel in Ongebonde die gehoor met emosies gaan oorrompel wat wissel tussen skaterlag en hartseer.

“Amanda is nie net ʼn heldin in die wêreld van toneel en veral dan die kabaret as kunsvorm nie, sy is ʼn ikoon. In hierdie produksie lewer sy ʼn verbluffende vertoning soos net die ware Miss Mandy kan.”

Niël Rademan (Foto: Verskaf)

Oor Antoinette se bydrae, is Niël ewe opgewonde. “Soos Europa vir Maggie Smith het, het Suid-Afrika ʼn jonger, ewe ikoniese weergawe in Antoinette. Sy is ʼn inspirasie vir akteurs en vir regisseurs, en dit is werklik ʼn eer om haar by die Hessequa Harmoniefees te ontvang.”

Teen wil en dank handel oor Antoinette se lewe en die onderskeie uiteenlopende rolle wat sy in haar uitgebreide loopbaan vertolk het. “Dis eenvoudig ʼn kragtoer,” voeg Niël by.

Die teateraanbieding van Rudie van Rensburg se immergewilde komedie, Hans steek die Rubicon oor, word knap vertolk deur Charlie Bougeunon. Charlie beweeg moeiteloos tussen karakters en sit veral oemf in Hans se mede-inwoners van Huis Madeliefie – iets wat hy met stemtoonverandering en maniërismes regkry.

“Dit is soveel pret om hierdie stuk te doen, en wat amper nog lekkerder is, is om te ervaar hoe die gehore dit saam met my geniet. Veral wanneer ek sien dat mense ná die vertoning die teater met ʼn huppel in hulle stap verlaat,” het Charlie in ʼn onderhoud met Maroela Media gesê.

Saam met Lizz Meiring as regisseur en Jak J Brits as verhoogbestuurder, is die teks in ʼn eenpersoonstuk omskep wat oud en jonk laat skater.

Dan is daar ook die aanbieding van Boesman en Lena wat die verhaal vertel van twee verloopte figure wat swerwend en soekend is na ʼn heenkome en hulle herkoms.

Rowmonique Kayser, regisseur van ‘Boesman en Lena’ wat vanjaar by die Hessequa Harmonie-fees wys. (Foto: Verskaf)

“Ons beeld ʼn klassieke verhaal vanuit ʼn nuwe perspektief aan. Dit is ʼn korter weergawe, maar dit raak steeds aan al die punte wat die oorspronklike teks behandel. Hoewel ons ons nie meer in die apartheidsjare bevind nie, dink ek dit is belangrik om nou en dan terug te kyk en te sien hoe ver ons gekom het,” sê regisseur Rowmonique Kayser oor die uniekheid en relevansie van hierdie stuk.

Op die vraag oor watter oomblik of toneel die grootste indruk op haar gemaak het, verwys Rowmonique na ʼn gesprek waar Lena oor haar miskraam praat.

“Lena praat met Outa oor hoe sy en Boesman in Swartkops opgeëindig het. Ek dink wat dit vir my so spesiaal maak, is die feit dat sy die ervaring van haar miskraam in een sin verwoord. Sy vat ʼn baie sensitiewe onderwerp en laat dit soos ʼn alledaagse gesprek klink. Dit breek my hart om te weet dat die miskraam nie een van hulle grootse probleme was nie.”

Kaartjies vir die Hessequa Harmonie-fees kan aanlyn by Webtickets gekoop word. Klik hier vir die volledige feesprogram.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.