Veteraanmusikante vereer by Innibos

Die reklame-organiseerder Sandra Jacobs, Richard, Lochner en die feesbestuurder Andy Lubbe (Foto: Facebook via Helen Ahlers)

Die reklame-organiseerder Sandra Jacobs, Richard, Lochner en die feesbestuurder Andy Lubbe (Foto: Facebook via Helen Ahlers)

Die veteraanmusikante Richard van der Westhuizen en Lochner de Kock, is Woensdagaand by die Innibos-fees in Nelspruit vereer vir hul bydrae tot Afrikaanse musiek.

Lochner het aan Maroela Media vertel dié toekenning vereer hom en Richard vir bykans 40 jaar in die kunste.

“Afrikaans en Afrikaanse musiek is ons passie. Die toekenning is ʼn fantastiese riem onder die hart en dit is ʼn ongelooflike voorreg om dit te ontvang,” het hy gesê.

Hy meen dié toekenning is ʼn bewys dat hy reg doen wat hy reeds vir jare doen. “Ek en Richard het nog nooit kommersiële musiek geskryf nie. Ons wou nog altyd net kuns skep en eerlik wees in ons werk en soms word dié soort musiek nie so maklik raakgesien soos ander soorte nie.”

Richard van der Westhuizen en Lochner de Kock (Foto: Facebook via Helen Ahlers)

Richard van der Westhuizen en Lochner de Kock (Foto: Facebook via Helen Ahlers)

Die sanger en akteur sê hy moes behoorlik die trane terugsluk. “Die mense het sigaretaanstekers in die lug gewaai en wild hande geklap. Mens het sommer swaar gesluk, want dit was wonderlik,” het hy bygevoeg.

Die beeldjie wat hy ontvang het, gaan langs ʼn Van Gogh-beeldjie in sy huis staan. “Want nes Van Gogh, het ek ook maar bitter min musiek verkoop en dié erkenning is vir my aangenaam.”

Tobie Cronjé het die toekenning vir die gewildste produksie, Ooms, ontvang. Chris Vorster het die teks geskryf en was ook die regisseur.

Chris Barnard is ook vanjaar vereer vir sy betrokkenheid by die fees. Barnard is op 28 Desember 2015 in die ouderdom van 76 jaar oorlede.

Besoek die Innibos-webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Karin Bloem ·

Veels geluk aan twee groot kunstenaars, julle verdien die toekenning. Ek is ‘n groot aanhanger van albei.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.