Die veteraanmusikante Richard van der Westhuizen en Lochner de Kock, is Woensdagaand by die Innibos-fees in Nelspruit vereer vir hul bydrae tot Afrikaanse musiek.
Lochner het aan Maroela Media vertel dié toekenning vereer hom en Richard vir bykans 40 jaar in die kunste.
“Afrikaans en Afrikaanse musiek is ons passie. Die toekenning is ʼn fantastiese riem onder die hart en dit is ʼn ongelooflike voorreg om dit te ontvang,” het hy gesê.
Hy meen dié toekenning is ʼn bewys dat hy reg doen wat hy reeds vir jare doen. “Ek en Richard het nog nooit kommersiële musiek geskryf nie. Ons wou nog altyd net kuns skep en eerlik wees in ons werk en soms word dié soort musiek nie so maklik raakgesien soos ander soorte nie.”
Die sanger en akteur sê hy moes behoorlik die trane terugsluk. “Die mense het sigaretaanstekers in die lug gewaai en wild hande geklap. Mens het sommer swaar gesluk, want dit was wonderlik,” het hy bygevoeg.
Die beeldjie wat hy ontvang het, gaan langs ʼn Van Gogh-beeldjie in sy huis staan. “Want nes Van Gogh, het ek ook maar bitter min musiek verkoop en dié erkenning is vir my aangenaam.”
Tobie Cronjé het die toekenning vir die gewildste produksie, Ooms, ontvang. Chris Vorster het die teks geskryf en was ook die regisseur.
Chris Barnard is ook vanjaar vereer vir sy betrokkenheid by die fees. Barnard is op 28 Desember 2015 in die ouderdom van 76 jaar oorlede.
Besoek die Innibos-webwerf.
Legendes van my opbrengs!
Veels geluk aan twee groot kunstenaars, julle verdien die toekenning. Ek is ‘n groot aanhanger van albei.