Video: 1 000 SA’ners sing die volkslied

Skermgreep uit die video

ʼn Video van een duisend Suid-Afrikaners wat die volkslied sing is op sosiale media vrygestel as deel van #AnthemChallengeRSA.

ʼn Groep van meer as 50 kunstenaars het aan die einde van Maart, en met die aanvang van die landswye afsonderingsperiode, virtueel bymekaargekom om die volkslied, Nkosi sikelel’ Afrika, te sing.

Elkeen van die kunstenaars het hul eie weergawes van die volkslied individueel by hul huise opgeneem en die opnames is in ʼn enkele video saamgevoeg. Die video is met ʼn uitnodiging aan alle Suid-Afrikaners op sosiale media gedeel: Sing saam met ons!

Die uiteinde is ʼn video van meer as 1 000 Suid-Afrikaners uit alle oorde wat saam die volkslied uitvoer.

Heinrich Swanepoel, bestuurslid van die Conwonnité-koor, het aan Maroela Media gesê hulle is een van die kore wat ook genooi is om deel te neem. Een van die kunstenaars wat deel is van #AnthemChallengeRSA, Lee Scott, is ʼn voormalige lid van die Conwonnité-koor. Dié koor, onder leiding van Albert Morland, is in die 1980’s as ʼn manskoor begin, hoofsaaklik voormalige lede van die Hoërskool Wonderboom Skoolkoor. Die koor is tans ʼn gemengde volwasse koor met meer as 60 lede.

“Dit is baie spesiaal om deel te wees van dié projek,” het hy gesê. “Dis wonderlik dat hulle aan die einde van die video erkenning kon gee aan almal wat deelgeneem het.”

James Bassingthwaighte, deel van die #AnthemChallengeRSA se kreatiewe span, het gesê families, groepe vriende, kore, musikante en orkeste het ook hul video’s ingestuur om deel te neem aan die projek. “Ons het vinnig 1 000 deelnemers gehad en ontvang nog steeds video’s van mense wat wil deelneem! Dit is wonderlik om te sien hoe kreatief mense kan wees en die ondersteuning wat dié projek ontvang het terwyl mense in afsondering is.”

Van die kunstenaars wat in die video te sien is, is Bianca le Grange, Corlea, Danny K, Kalego Maboe, Kurt Darren, Leah, Lee Scott, Pierre Greeff, Sibongile Mngoma, Tracey-Lee Oliver, Tumi Morake, Willem Botha, Yvonne Chaka Chaka en Zolani Mahola.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
Annelie

Ongelooflik!!!! Dink net as ons so kon saamstaan in geloof, politiek… as een nasie, sonder verdeeldheid!!!
Dankie SA!

Frieda

FABULOUS!!!!!!! WEL GEDAAN!!

Michael 1

Praat ons hier van dieselfde volkslied wat die regering hulle bes doen om die stem gedeelte te laat verwyder,as dit dieselfde een is gaan ek eers uitsit todat alle diskriminasie teen minderhede geskrap word.

Katjie

Ek het nou sommer hoendervleis. Dit is stunning. Wat dit nog stunninger gemaak het was toe ek my meisiekind roep om te kom kyk het sy langs my gestaan en kliphard saam gesing. Unbelievable!

Johan

Ek kan nie begryp hoekom hier so baie afduime is op lesers se (pogings tot-) positiewe kommentaar nie? Is ons mense regtig so negatief ingestel?