Video: Aanhangers te sien in Die Heuwels se nuwe musiekvideo

Die Heuwels Fantasties. (Foto: André Badenhorst)

Die Heuwels Fantasties is al jare lank ʼn uitblinkergroep in die Afrikaanse musieklandskap en die groep se jongste musiekvideo vir die snit “Ons moet leef” getuig van die aantal aanhangers wat dié groep het.

Die groep het aanhangers genooi om deel te wees van die video deur tuisvideo’s in te stuur vir moontlike oorweging vir gebruik in die storielyn.

“Ons het vir ‘Ons moet leef’ aanvanklik gedink ons moet nou maar onsself afneem terwyl ons lawwe goed doen. Ons het toe onthou almal anders is ook verveeld, so hoekom speel ons dan nie maar almal saam nie? Ons is nuuskierig om te weet wat ander mense doen,” sê Hunter Kennedy, liedjieskrywer en sanger van die groep.

“Daar was ʼn hele paar inskrywings. Dankie aan almal en geluk aan dié wie se video’s dit gemaak het. Ons is mal oor die finale video!”

Ampie. (Foto: Instagram)

Die sanger en liedjieskrywer Ampie is ook in dié snit te hoor. Ampie is bekend vir snitte soos “Niks en niemand” en “Plain Jane”.

“Hierdie liedjie is op ʼn warm dag langs ʼn hotelswembad in Pretoria gebore,” vertel Fred den Hartog oor die ontstaan van “Ons moet leef”.

“Ampie en Hunter is ou vriende, so dit was net ʼn kwessie van tyd voordat Die Heuwels iets saam met Ampie sou doen. Na ʼn paar biere en ʼn paar flou grappies het ek my kitaar opgetel en saam met Pierre, Hunter en Ampie begin sing en skryf. Dit is ʼn liedjie oor versoening, samesyn, vriendskap en om in die hier en nou te kan wees.”

“Ons moet leef” sal saam met die groep se vorige twee uitreikings, “Jy stel my teleur” en “Mejuffrou Sonneblom”, in die groep se splinternuwe album getiteld 2021 verskyn.

Die album, wat op 22 Mei uitgereik word, bestaan uit 15 nuwe liedjies en is opgeneem by Sunset Recording Studios in Stellenbosch.

“Ons moet leef” is op alle digitale platforms beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Rodger17 ·

Sjoe moet mens n doktorsgraad hê om kaas te maak?O ja vergeet,hier word mens oornag n doktor

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.