[Video] Aardklop: Kies ʼn feeskarakter en kom hou fees

Wicus van der Merwe en Dowwe Dolla by Aardklop in ‘Dowwe Wicus en Dolla van der Merwe’ (Foto: Facebook)

Of jy nou ʼn feesflerrie, ʼn Sannie-smulpaap of ʼn boekie-bokkie is, vanjaar se Aardklop Nasionale Kunstefees op Potchefstroom gaan iets vir jóú bied: die unieke en diverse feesganger wat om welke rede ook al dié fees ondersteun.

Hoewel vanjaar se kunstefees beloof om op dieselfde weghol-suksesresep van verlede jaar voort te bou, brei Aardklop vanjaar selfs verder uit om elke feesganger in ag te neem. Dit is juis daarom dat die fees vanjaar sy unieke feeskarakters bekend gestel het, en jy sal jouself met minstens een van dié kategorieë kan identifiseer.

Feeskarakters met wie Aardklop onder andere spog, sluit in Frikkie Flinkdink, Sannie Smulpaap, Feesflerrie, Amok Haantjie, Baby Kopklits, die Klitsklets-koningin en die Fênsie Sjmênsie.

“Ons het na al die feesgangers gaan kyk wat Aardklop ondersteun – van die een spektrum waar Sannie Smulpaap net die feesterrein wil besoek vir iets lekkers om aan te knibbel, tot die feesganger wat daar is om die teater te beleef en die visuele kunste te ondersteun,” sê Alexa Strachan, die feesbestuurder.

Dit is juis uit dié feeskarakters dat Aardklop onlangs sy hoogs gewilde televisie-advertensie, met aktrises soos Eliza Cawood en Simoné Nortmann, bekend gestel het.

Koöperasiestories met Chris van Niekerk, Marion Holm, Margit Meyer-Rödenbeck, Wessel Pretorius en Carel Nel (Foto: Facebook)

“Mense geniet die feeskarakters ongelooflik baie omdat hulle hulle daarmee kan vereenselwig. Ons kry ongelooflike goeie terugvoer – almal sê hulle wil gewoonlik na ander kanale oorskakel wanneer die advertensies speel, maar met ons advertensie móét hulle wag tot op die heel einde, want Elize is so ongelooflik snaaks as Sannie Smulpaap.”

Dié advertensie, waar ʼn paar van die feeskarakters kwansuis agter tralies beland het, beeld die “gereelde verdagtes” uit wat hulle skuldig maak aan feesviering na hartelus, vertel Strachan.

“Ons is baie opgewonde oor vanjaar se fees. Ons het hier en daar ʼn bietjie aan die konsep verfyn, maar ons wil nie baie ver daarvan afdwaal nie omdat verlede jaar ʼn groot sukses was. Dit was nie ʼn sukses danksy een mens nie, maar oor elke uiteenlopende feesganger wat Aardklop ondersteun het.”

Vanjaar se tema is eenvoudig: vir elkeen is daar iets in dié fees wat beloof om hulle volgende jaar te laat terugkeer vir selfs meer.

Alexa se opdrag: Hier móét jy ʼn draai maak

  1. Wat is Aardklop sonder ʼn besoek aan die feesterrein? Vir die mans met moeë bene is daar ook goeie nuus: Vanjaar kan jou vrou na hartelus feesvier terwyl jy in die Ramkamp ontspan.
  2. Visuele kunste: Wat is daar nou meer om te sê?
  3. Die Aardklop-atrium – dit beloof om jou grense te verbreed.
  4. Die gesprekkereekse waarvan daar meer as 40 aangebied word.
  5. Aardklop se splinternuwe musiek-venue by die Elgro Hotel in die dorp.

Belangrike punte

Vanjaar se fees vind plaas tussen 2 en 8 Oktober. Die feesterrein open egter eers op 3 Oktober, aangesien die Kuns-safari op 2 Oktober plaasvind. Kaartjies is beskikbaar by Computicket. Vir meer inligting, besoek Aardklop se webwerf en Facebook-blad.

Aardklop het ʼn eksklusiewe agter-die-skerms-video van hul splinternwe advertensie met Maroela Media gedeel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.