Video: Agter die skerms van Afrikaans is Groot 2017

‘n Skermskoot uit die video

Selfs nadat die Afrikaans is Groot-organiseerders vanjaar twee ekstra vertonings in Gauteng by dié konsertreeks gevoeg het, het dié kaartjies stééds uitverkoop nog voordat die eerste konsert in Pretoria afgeskop het.

Brendon Hargroves, uitvoerende vervaardiger van Afrikaans is Groot, sê dié konsert is vanjaar groter as ooit vantevore – en dit geld volgens hom vir die verhoog, die kunstenaars én die musiek.

Die Afrikaans is Groot-handelsmerk het in Oktober vanjaar sy tiende verjaarsdag gevier. As deel van die feesviering het Afrikaans is Groot ook sy tiende Afrikaans is Groot-album, propvol treffersnitte, bekend gestel.

Ewald Coleske, medestigter van die handelsmerk, het vroeër aan Maroela Media gesê Afrikaans is ná tien jaar steeds dié handelsmerk se passie en ook die rede waarom dit nog jare lank suksesvol sal bly. “Ons werk met briljante kunstenaars – ons het in dié stadium ses of sewe titels in die Top 20-verkope. Ons is trots op elkeen wat hierdie handelsmerk laat werk en dit gevat het tot waar dit vandag is; die musikante, die regisseurs, die videograwe en almal agter die skerms.

“Daar is soveel mense wat alles agter die skerms opoffer en natuurlik moet ons ook dankie sê vir dié wat ons musiek ondersteun. Ons is trots op hierdie handelsmerk en hopelik kan ons met nog ondersteuning en genade van bo die handelsmerk nog jare lank laat voortbestaan,” het Coleske gesê.

Wes-Kaapse aanhangers van die Afrikaans is Groot-konsertreeks kan vanjaar uitsien na ʼn enkele vertoning uit dié reeks wat volgende jaar in Kaapstad gehou gaan word. Die konsert word volgende jaar op 17 Maart by die Grand West Casino gehou. Kaartjieverkope het 23 November geopen.

Afrikaans is Groot het Maroela Media op ʼn agter-die-skerms-toer van dié konsert gevat. Kyk die video onderaan die artikel. Die eerste konsert vind Vrydagaand plaas.

Hier is ʼn paar kitsfeite:

  • Dit is die eerste keer in die geskiedenis dat Afrikaans is Groot by die Time Square Arena by die splinternuwe Menlyn Maine-winkelsentrum aangebied word.
  • Al die kaartjies vir die Gauteng-konserte is reeds uitverkoop nog voordat die eerste konsert in Pretoria plaasgevind het.
  • Twee ekstra konserte is vanjaar in Gauteng bygevoeg weens ʼn “oorweldigende aanvraag”.
  • Sowat 85000 konsertgangers word vanjaar by dié konsert verwag.
  • Die LED-skerm aan die agterkant van die verhoog is vanjaar 36 m breed – verlede jaar was dié skerm net 17 m breed. Die skerm is ook 7 m hoog in vergelyking met verlede jaar se 6 m.
  • Al die LED-skerms weeg saam 4,7 ton.
  • Daar is 1200 meer sitplekke as by verlede jaar se konsert.
  • Die klanktoerusting wat vanjaar gebruik word, is vier keer sterker as die toerusting wat tydens vorige konserte gebruik is.
  • Die verhoog waarop die kunstenaars staan, is ingevoer vanaf die Verenigde Koningryk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Ronnie ·

Ek het gisteroggend twee kaartjies pasella gekry en gisteraand was ons daar. Wat ‘n ondervinding! Die skerms aan die agterkant het die ongelooflikste grafika op, daar was hologramme, die orkes was skitterend en kunstenaars net so goed. Wel gedaan, AiG! My stem is vanoggend weg soos wat ek saamgesing het.

MvS ·

Wat n ongelooflike produksie!! Beste ooit! Kunstenaars was fantasties! Enigste negatiewe punt vir my was lede van die gehoor wat deurentyd op en af geloop het om bier en wyn by die kroeg te koop. Miskien moes hulle eerder lekker by die huis gebraai het as om al die moeite te doen om konsert toe te kom en dan gedurende die vertoning die drinkgoed aan te vul. Regtig? O ja en hulle kon ook maar die mense gelos het wat met flitsliggies sjokolade en skyfies gedurende die vertoning verkoop het. Regtig steurend en so onnodig. Ons sit nie op die strand en kyk na die branders nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.