[Video] Agter die skerms van Bobby se musiekvideo met dubbelgangers

Agter die skerms van Bobby se jongste liedjie, “Net ‘n man” (Foto: Verskaf/Suna Robberts)

Die musiekvideo vir Bobby van Jaarsveld se jongste liedjie, “Net ʼn man”, is die afgelope naweek klaar geskiet nadat hordes hoopvolle aanhangers – wat elkeen glo hy lyk op ʼn haar na die sanger – ingeskryf het om in dié video te verskyn.

Van Jaarsveld se bemarkingspan het vroeër verlede week gesoek na vier mans met soortgelyke gelaatstrekke as dié van die sanger om karakters in dié musiekvideo te vertolk.

Johan C. Venter van Coleske Artists sê meer as 100 mense het per e-pos kontak gemaak en nóg ʼn groot groep mans het hul inskrywings via Facebook ingedien.

Venter sê hy het deur die aanvanklike inskrywings gesif op soek na mans wat die mééste na die sanger lyk, maar Bobby het die laaste sê gehad oor wié die karakters sal vertolk.

“Ons het aanvanklik gesê diegene wat inskryf moet van Pretoria wees, so ons was ongelukkig genoop om toe ʼn tweede opsie vir die vierde ‘Bobby’ te soek, maar dit het wonderlik gegaan. Bobby het ongelooflik lekker met hulle gesels en hulle het dit baie geniet om die video te skiet,” sê hy.

Die sanger se span het sommer op die ingewing van die oomblik besluit om ʼn vyfde karakter in die video te voeg: ʼn ‘ouer’ weergawe van die sanger. Venter sê ʼn 82-jarige man het toe ingestem om dié karakter te vertolk.

“Ons het sommer ʼn ouetehuis naby die stel gebel en ʼn dierbare oom gekry wat ingestem het. Hy het sy dele in die video so vir twee ure lank geskiet en toe sommer nog ʼn uur langer op stel gekuier. Dit was regtig groot pret!”

Dié musiekvideo het een ding geleer, vertel hy skertsend: Daar is net één Bobby van Jaarsveld.

“Die mense lyk natuurlik nou nie heeltemal soos hy nie, maar elkeen het ʼn gelaatstrek wat aan hom herinner. Dis baie snaaks want al die ouens se meisies het hulle daarvoor ingeskryf. Nietemin het hulle dit op die ou einde baie geniet.”

Die vier karakters wat die dubbelgangers moet vertolk is onder meer ʼn digter, ʼn statige prins soos die hertog van Cambridge, ʼn weermagman wat ʼn báie stywe pak moet dra en ʼn swerwer.

Venter sê aanhangers kan uitsien na dié video wat teen middel-Oktober uitgereik word.

Venter en die res van die bemarkingspan van Coleske Artists het agter-die-skerms beeldmateriaal van die video met Maroela Media gedeel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Gert ·

Stem heeltemal saam Leeu. Wat rook die mense om te dink hulle lyk soos Bobby?

Annakapat ·

Brullende Leeu … en soos wie lyk jy? Ek kan raai! Hehe

Koos ·

Daai span het definitief nie hulle brille opgehad nie! Hoekom het hy self nie sommer al 5 gespeel nie?

Annakapat ·

Brullende Leeu, en soos wie lyk jy? Ek kan raai! Hehe …

TM ·

Nee aarde. Hulle praat van gelaatstrekke wat aan hom laat herinner, maar ek sien niks raak op nie een van die ouens nie. Nie ore, oë, mond, hare of neus nie. Dalk het hulle nie so baie inskrywings gekry soos hulle beweer nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.