Video: Anna Wolf, internasionale musikant, skryf saam gruwelprent-temalied

Anna Wolf.

Die Suid-Afrikaanse sanger en liedjieskrywer Anna Wolf en die Skotse musikant Pop Morrison het kragte saamgesnoer om die nuwe gruwelprent, The Unfamiliar, se temalied te skryf.

Die fliek is Vrydag in die VSA uitgereik en handel oor ʼn Britse weermagdokter wat terugkeer van die oorlog af en dink dat sy aan posttraumatiese stresversteuring ly, net om te ontdek dat daar bose geeste in haar huis is.

Wolf is ʼn Suid-Afrikaanse musikant terwyl Morrison, alias Jamie Morrison, bekend is as tromspeler van die Walliese rockgroep Stereophonics.

Wolf woon die afgelope paar jaar in Londen in Brittanje saam met haar man, die Suid-Afrikaanse akteur en vervaardiger Henk Pretorius.

Pretorius is die skrywer en regisseur van The Unfamiliar terwyl Llewelynn Greeff die vervaardiging behartig het. Dié twee het onlangs in ʼn onderhoud met Maroela Media gesê die inspirasie vir die fliek is die vrees wat mense vir die onbekende koester.

Pop Morrison. (Foto: Facebook)

Wolf en Morrison het uiteraard ʼn voorskou van die rolprent gekry om die lied te kon skryf. “Ons het ʼn metaforiese benadering gevolg om die immerbouende, onheilspellende toon van die fliek oor te dra,” sê Wolf.

“Die liries gedrewe lied is ook ʼn huldeblyk aan die nostalgie wat die rolprent in my gewek het as aanhanger van The Shining en Hitchcock se Psycho.”

Die eindresultaat het die visie van die fliekmakers oortref. “Anna Wolf en Pop Morrison se musiek dra op ʼn dromerige manier die donker trekkrag van The Unfamiliar oor. Ek het emosioneel geraak toe ek hoor wat hulle saam geskep het.”

Morrison het oor die lied laat hoor: “Die lied weerspieël die toon lank voor jy die fliek gesien het, op dieselfde wyse as wat die fliek sy spoor op jou laat nadat jy dit gesien het.”

Kyk hier na die musiekvideo:

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.