Video: Aspoestertjie-pantomime eersdaags op die planke by Staatsteater

Karlien, Marlee, Mortimer en Tiaan tydens 'n repetisie van 'Aspoestertjie'. (Foto: Megan Gittins/Maroela Media

Karlien van Jaarsveld, Marlee van der Merwe, Mortimer Williams en Tiaan Rautenbach tydens ‘n repetisie van ‘Aspoestertjie’. (Foto: Megan Gittins/Maroela Media

ʼn Beeldskone huishulp wat graag ʼn prinses wil wees, ʼn heldhaftige prins, ʼn nare stiefma, twee skreeusnaakse lelike stiefsusters, ʼn lojale dienskneg en ʼn goeie fee vermeng met kwinkslae, bekende liedjies en ingewikkelde danspassies. Dít is die perfekte resep vir ʼn suksesvolle pantomime en presies wat die splinternuwe produksie van Aspoestertjie beloof om aan gehore van oud en jonk te bied.

Die uiters suksesvolle pantomime, Aspoestertjie, wat in 2015 vir die eerste keer op die planke was en vir nege gesogte Naledi-teaterpryse benoem is, is weer vandeesmaand te sien by die Staatsteater in Pretoria.

Die sangeres en aktrise Karlien van Jaarsveld neem weer haar rol as Aspoestertjie, waarin sy destyds haar teaterdebuut gemaak het, in. Dié keer vertolk Zak Hendrikz, wat onder meer bekend is as die skurk Eben Vermeulen in die kykNET-hospitaaldrama Binnelanders, die rol van die heldhaftige Prins.

Karlien van Jaarsveld vertolk die rol van Aspoestertjie. (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Karlien van Jaarsveld vertolk die rol van Aspoestertjie. (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Marlee van der Merwe, wat tans te sien is as die feeks Kristien in die kykNET-sepie Getroud met rugby, speel weer die rol van Ursula, die nare stiefma. Haar twee lelike stiefdogters word vertolk deur Tiaan Rautenbach en Mortimer Williams.

Fezile Mpela, wat ook in Getroud met rugby te sien was as Ike, vertolk die rol van Dun Daantjie, die verteller wat die pas aangee saam met die Goeie Fee, vertolk deur Edrien Erasmus.

Neels Clasen is aan die stuur van die produksie as regisseur terwyl Renier en Lise-Mari Keyser verantwoordelik is vir die vervaardiging. Die Keysers skep al vir langer as ʼn dekade karaktergedrewe stories op die verhoog met uitnemende produksiegehalte en was onder meer die vervaardigers van gesogte teaterproduksies soos Houtkruis, Ester, Dawid, Liefling, Droomkind, Sneeuwitjie en Doringrosie.

Maroela Media het tydens die repetisies op die stel van dié produksie gaan kuier. Karlien van Jaarsveld skerts dat sy vir ʼn tweede keer ingestem het om dié rol te vertolk, omdat sy vergeet het hoeveel harde werk dit verg.

Zak Hendrikz vertolk die rol van die heldhaftige prins. (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Zak Hendrikz vertolk die rol van die heldhaftige prins. (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

“Dit is vir my lekker om saam die klomp akteurs te wees, want ʼn mens vergeet partykeer hoe om vry te wees en jouself te wees. Hulle herinner my om net myself te wees,” sê Van Jaarsveld, wat met dié rol die geleentheid kry om haar humoristiese kant ten toon te stel.

“Aspoestertjie se stiefma en stiefsusters is vreeslik vieslik met haar, maar ek moet myself heeltyd keer om nie te lag vir hulle nie, want hulle is vir my verskriklik snaaks. Aspoestertjie is baie opreg met ʼn sagte persoonlikheid, maar sy is ook baie skerp. Sy is ʼn baie interessante karakter en ek hou van haar. Sy hou haarself in en dan laat sy haarself weer gaan.”

Volgens Van Jaarsveld is dit ʼn groot eer om deel te wees van ʼn Afrikaanse produksie by die Staatsteater. “Dié teater is een van die grootste en bekendstes in ons land en dit is vir my ʼn baken.”

Marlee van der Merwe vertolk die rol van Ursula, die nare stiefma. (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Marlee van der Merwe vertolk die rol van Ursula, die nare stiefma. (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Zak Hendrikz, wat toegee dat hy geken word vir sy rolle as die skurk in Binnelanders en flieks soos Ballade vir ʼn enkeling en Thys & Trix, sê dit is ʼn uitdaging om ʼn romantiese hoofrol soos die Prins in ʼn pantomime te speel omdat dié karakters dikwels tweedimensioneel is. Tog geniet hy dit om dié rol sy eie te maak en meer kleur te gee.

“Ek het ongelooflik baie pret en ek hoop dit word so oorgedra na die gehoor toe. Dit voel asof ek weer teruggekom het na my huis toe. Ek het so lanklaas opgetree in die Opera van die Staatsteater en die mense saam met wie ek werk – Marlee, Edrien, Neels – is mense saam met wie ek al amper 20 jaar in die bedryf werk. Om almal weer saam in ʼn vertrek te hê is soos om saam met familie te wees. Ons lag meer as wat ons eintlik werk,” sê Hendrikz.

Marlee van der Merwe voeg by dat sy ook heeltyd haarself moet keer om nié tydens repetisies te lag nie. “Alles is so oordrewe en ons het soveel pret. Omdat my dogters fopdossers is, is daar ʼn baie interessante dinamika waarvan ons die heeltyd bewus is. Ons het wonderlike nommers wat ons uitvoer en my sololiedjie, ‘Wees bevrees’, is skreeusnaaks,” verklap sy.

Fezile Mpela vertolk die rol van Dun Daantjie, die verteller. (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Fezile Mpela vertolk die rol van Dun Daantjie, die verteller. (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Hoewel sy glo die gehoor vir haar karakter gaan lag, onthou sy ook dat sy die vorige keer ʼn paar kinders in die gehoor laat huil het. “Al mag die kindertjies weer ʼn klein bietjie huil, is hierdie produksie werklik vir oud en jonk. Daar is iets vir almal, daar is grappies vir almal en grappe wat heeltemal oor die kinders se koppe sal gaan, maar daar is soveel wat elke ouderdomsgroep sal geniet.”

Aspoestertjie is op die planke vanaf 5 tot 28 Julie, met vertonings om 19:30 op Vrydae, en om 11:00 en 15:00 op Saterdae en Sondae. Kaartjies kos tussen R160 en R250 en is beskikbaar by Webtickets (www.webtickets.co.za) of by enige Pick n Pay-winkel. Vir die openingsnaweek is daar ‘n 25% korting op alle kaartjies. 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.