Video: Bekendes sing, dans saam om SA’ners se gemoed te lig

Deon Meyer en sy vrou, Marianne, in ‘n skermgreep uit die video.

ʼn Groep van die land se gewildste sangers en musikante het kragte saamgesnoer om ʼn splinternuwe weergawe van die bekende Bill Withers-liedjie, “Lean on Me”, op te neem met ʼn eg Suid-Afrikaanse geur.

Dié projek is gelei deur musikant en TV-aanbieder Emo Adams, en bekroonde sangers soos Heinz Winckler, Jack Parow, Early B, Sasha-Lee Davids, Paxton Fielies, David Kramer, Alistair Izobell, Pierre Greeff van Die Heuwels Fantasties en Francois van Coke verleen hulle stemme aan die liedjie.

Die doel van die opname is om die gemoed van Suid-Afrikaners te lig in dié onsekere tyd. Sowat 80 van die land se bekendste persoonlikhede soos Bryan Habana, Katlego Maboe, JP Duminy, Rolene Strauss en Nadia Jaftha is ook in die musiekvideo van die liedjie te sien.

Die bekende spanningskrywer Deon Meyer en sy vrou, Marianne, is ook in die video te sien waar hulle ingewikkelde danspassies oefen en die akteurspaar Ivan Botha en Donnalee Roberts se babaseuntjie, Cameron, maak ook sy dansdebuut.

Emo Adams en sy gesin in ‘n skermgreep uit die video.

Adams, wat die idee vir die projek konsepsualiseer het en ook die liedjieprojek vervaardig het, sê dit was vir hom belangrik om die liedjie op te neem met ʼn plaaslike, eietydse geur om te verseker dat dit Suid-Afrikaners se harte te midde van die Covid-19-pandemie raak.

“Ons moet aanhou om liefde te versprei en hoop aan te wakker by elke Suid-Afrikaanse landsburger. Dit is my visie om nie net elke Suid-Afrikaner aan te moedig om die liedjie af te laai nie, maar om te herenig, en om positief en hoopvol te bly want ons het mekaar nodig in hierdie tyd,” sê Adams.

“Ek wou hê dit moet die huidige generasie se weergawe van die ikoniese liefdadigheidsenkelsnit, ‘We are the World’ wees en het verskeie Suid-Afrikaanse kunstenaars genader om ʼn vers of twee van die liedjie op te neem.

“Ons het soveel talent in ons land en deur kunstenaars te verenig laat ons ook die wêreld weet dat die pandemie nie ons hoop en lewensbestaan gaan wegneem nie.”

Leah in ‘n skermgreep uit die video. (Foto:

Cipla Suid-Afrika, een van die land se voorste farmaseutiese maatskappye, het hande gevat met die kunstenaars om te help om bewusmaking oor geestesgesondheid te skep.

“Soos deur die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) uitgelig is dit van kritieke belang om na jou geestesgesondheid en psigologiese welstand om te sien tydens die pandemie,” sê Paul Miller, hoof van Cipla Suid-Afrika.

“Die veldtog is net nóg ʼn herinnering dat hoewel ons fisiek geskei is, ons almal saam is hierin en mekaar moet ondersteun.”

“Lean on Me” is op Soundcloud beskikbaar. Die liedjie sal ook later vandeesweek op alle ander stromingsplatforms beskikbaar wees.

Kyk hier na die musiekvideo:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.