Video: Beurtkrag stuit nie jong orkes

Skermgreep uit die video.

Skermgreep uit die video.

Die Johannesburgse Jeugorkes, wat meestal uit hoërskoolleerders en jong volwassenes bestaan, kon Dinsdagaand nie in hul spore gestuit word toe ʼn kragonderbreking tydens hul repetisie plaasgevind het nie.

Dié orkes, wat bestaan uit sowat 60 jong musikante, was midde ʼn Michael Jackson-medley toe beurtkrag toegepas is, en die orkes het volstrek besluit om net aan te hou speel.

Evert van Niekerk, ouer van een van die lede in die orkes, het ʼn video hiervan op sosiale media gelaai. Van Niekerk is self ʼn violis en sy dogter, Christine, bespeel die hobo en tjello. Hy vertel die video is deur ʼn ander ouer geneem en na die res van die ouers versprei, waarna hulle besluit het om die video op sosiale media te deel.

“Ons wil graag hê almal moet die video sien, want dit is nie net ʼn bewys van die gees van die orkes nie, maar ook van die mense in Suid-Afrika as ʼn geheel,” het Van Niekerk aan Maroela Media gesê.

“Aan ons vriende oorsee – hierdie is wat ons beurtkrag noem,” het Van Niekerk by sy Facebook-plasing geskryf.

“Met baie grasie en ʼn kanniedood-houding het dié jong mense van die Johannesburgse Jeugorkes bewys dat ons nié sal tou opgooi nie.

“Daar is meer aan hierdie land as wat met die eerste oogopslag gesien kan word. Ons hét gees en ons sal nie opgee nie, selfs wanneer ons met teëspoed gekonfronteer word. Ons sal weer opstaan!”

Christine (18) het aan Maroela Media vertel toe die krag afgaan, het die orkeslede bloot geweier om op te hou speel.

“Ons het ons selfone uitgehaal en ons liggies aangeskakel om die bladmusiek te kon lees. Ons het omtrent ʼn halfuur van ons repetisie oorgehad toe die krag afgaan, maar het aanhou speel totdat dit bykans onmoontlik geraak het.”

Van Niekerk het bygevoeg dat selfs professionele musikante hul repetisie sou beëindig sou die krag afgaan. “Dié kinders was net só geïrriteerd met die beurtkrag dat hulle besluit het hulle speel voort!”

To our friends overseas, this is what we call loadshedding. When Eskom, once one of the top 5 companies in the world, is only a shadow of itself after…let me not get political here…happened. However, with a lot of grace, and a never say die attitude, these young people of the Johannesburg Youth Orchestra are showing that we will not give up. There is more to this country than meets the eye. We have spirit, and we will not quit, even in the face of adversity. We will rise again!

Posted by Evert van Niekerk on Tuesday, February 12, 2019

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

At Dippenaar ·

Prysenswaardig!! Sal wat wil gee om die jongklomp se openingsaand te kan bywoon.

Disselboom ·

Gemengde gevoelens: inderdaad volpunte vir die orkes en so moet ons wees, maar terselfdertyd ‘n teken van die tye in Suid-Afrika waar jy saans by die huis sit en gesels na ete, soos gewone mense doen en dan klap daar ‘n paar skote in die buurt en ons nie ‘n oog knip nie en net aangaan met die gesprek, terwyl die oorsese gaste geskok in die middel van sin gestop het, wil gaan kyk wat aangaan… Disselboom is kieskeurig waar hy sy leenwoorde vandaan in Afrikaans inbring, maar “eish”, ons raak hard; of is dit afgestomp?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.