Video: Bok en Robbie se ‘droogteliedjie’-video is hier

Bok van Blerk en Robbie Wessels (Foto: Instagram)

Die voortslepende Kaapse droogte lê hulle na aan die hart, sê die Afrikaanse sangers Robbie Wessels en Bok van Blerk. Daarom het hulle onlangs saamgespan om ʼn duet oor dié droogte op te neem – en nou is die musiekvideo vir die liedjie pas vrygestel.

Die enkelsnit, getiteld “Die sluise van die hemel”, is deur Wessels geskryf. Die musiekvideo van die liedjie is op 2 Maart eksklusief op kykNET se Top 20-musiekprogram bekend gestel.

Die sangers het vroeër vertel dié liedjie beloof om “Suid-Afrikaanse harte diep te roer”.

Wessels het vertel hy het dié liedjie geskryf omdat die droogte – met ʼn spesifieke fokus op die Kaapse droogte – vir hom ʼn persoonlike kwessie is. “Dit is nie ’n liedjie waaroor ek lank moes dink toe ek dit geskryf het nie, want dit was asof dit van bo af vir my gestuur is,” vertel hy. “Ek dink dit het gespruit uit my liefde vir die Kaap, en al is ek nie daar om die moeilike tyd saam met die Kapenaars te beleef nie, gaan my hart uit na die mense daar.”

Bok, ʼn jare lange vriend van Wessels, vertel dié liedjie gaan veral mense roer wat direk deur die droogte geraak word. “‘Die sluise van die hemel’ praat elke keer met my as ek daarna luister. Ek is seker hierdie liedjie gaan met die mense van Suid-Afrika ook praat en jou siel aanraak,” sê hy.

Die liedjie is ook ʼn metafoor vir ander droogtetoestande in aanhangers se lewe – of dit nou verlies of hartseer is. “Selfs al is droogte nie nou vir jou ’n krisis nie, was jy al moontlik in ’n droogtesituasie of die een of ander natuurramp waar jy net vir God se genade kon bid vir ingryping. Al het ons baie verskille, hou ons daarvan om saam te staan in tye van nood,” sê Van Blerk.

Wessels en Van Blerk het al voorheen duette uitgereik soos “Ons vir jou Suid-Afrika”, “Go Bokke!” en “Ek en my vlerk”.

Kyk uit: Robbie Wessels kom op 5 Maart in die Maroela Media-ateljee kuier om meer te gesels oor dié liedjie én sy ander mees onlangse projekte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Helmar ·

Dis ‘n pragtige lied met die mooiste woorde. Dankie Robbie en Bok. Dit sal die volk laat harder saam bid.

Dodo ·

Liewe Robbie en Bok gaan julle ook so ietsie skryf vir die droee karoo en namakwaland, die kaap het darem nog water maar in die karoo en namakwaland is dit al jare droog sonder uitkoms…

Marisa Botha ·

Wie sou kon dink die twee manner se stemme sou so mooi saam klink! Pragtag!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.