Video: Bottomless Coffee Band sing in Afrikaans

Die musiekduo Lourens en Esté Rabé, oftewel Bottomless Coffee Band, het pas ’n nuwe Afrikaanse liedjie en musiekvideo, “Is ons al daar”, bekendgestel.

Dié geliefde Suid-Afrikaanse musiekgroep is alombekend vir hul Indie-Folk-aanslag tot musiek wat hulle meestal in Engels sing. Maar met “Is ons al daar” het hulle weer Afrikaanse gehore kom vermaak.

Dié egpaar het ontmoet toe hulle albei aan die Universiteit Stellenbosch gestudeer het. Tussen die twee kan hulle 12 instrumente bespeel.

“‘Is ons als daar’ is ’n liedjie oor die frustrasies van die alledaagse lewe en oor hoe ons oorweldig raak deur ons doenlysies en ons kulturele omgewing.

“Dit gee daardie gevoel dat jy in jou kar wil klim en na êrens rustig en beter wil ry. Parallel daarmee is die vrae van ‘daar uitkom’ in die lewe. Is ons ooit daar, en moet ons wees?” verduidelik dié twee.

“Vir elke unieke wese wat daar is, is die lewe ’n unieke reis en het hulle ook hul eie unieke uitdagings. ’n Mens kan net dans op die ritme van jou eie lewe, terwyl jy uitreik na vreemdelinge op jou pad om saam te dans sodat alles in die lewe ’n bietjie beter word, want … is ons ooit regtig daar?”

Bottomless Coffee Band (Foto: Verskaf)

As Lourens oor hul musiek praat, sê hy: “Al die liedjies word soos jou kinders – elkeen het ’n eie persoonlikheid en moet ook op hul eie manier hanteer word. Elke liedjie verklap ’n bietjie meer oor wie jy is, en sommige verras jou en het ’n veel groter invloed op jou as andersom; net soos met enige nageslag.”

Esté voeg by: “Van die begin af was ons hoofdoel om ander deur musiek te inspireer. In ’n wêreld gevul met soveel gebrokenheid en sinneloosheid, wil ons musiek maak wat hoop bied, verandering kan inspireer, liefde sal versprei en mense kan verenig.”

Afgesien daarvan dat hulle voltyds toer, glo Lourens en Esté ook daarin om hul musiek en vaardighede te gebruik om gemeenskappe en die land op te hef.

Vir meer inligting besoek www.bottomlesscoffeeband.com. “Is ons al daar” is op alle digitale platforms beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Doefie ·

Ek het die voorreg gehad om een van hulle vertonings te sien. Puik, hierdie twee mense kan musiek maak. Gebruik musiek instrumente meesterlik !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.