[Video] Brendan Peyper groet sy Blikkies in roerende video

Brendan Peyper sing vir sy geliefde Blikkies (‘n Skermskoot uit die video)

Die Afrikaanse sanger Brendan Peyper sê sy hart is “in stukke” nadat sy geliefde Blikkies – ʼn vyfjarige Jack Russel-hond – dood is ná ʼn stryd teen epilepsie.

Die sanger het in ʼn onderhoud met Maroela Media vertel sy hart is seer oor dié “klein skaduwee” wat hom nie meer oral gaan volg nie.

Blikkies, vernoem na sy gunstelingkarakter in die televisiereeks Trompie en die Boksombende, is verlede week deur ʼn veearts “laat slaap”. Dié veearts het glo vir die sanger se ma, Celesté, gesê hul geliefde troeteldier leef nie meer ʼn kwaliteit-lewe nie en dat hy heel waarskynlik konstante pyn ervaar.

Peyper het daarom onlangs ʼn video op sy Facebook-blad gedeel waarin hy ʼn liedjie aan sy Blikkies opdra. Hy sê dié video was die laaste oomblikke wat hy saam met hom deurgebring het.

“Ons weet al vir lank dat hy met epilepsie sukkel. Soms sou hy geen aanvalle kry nie en op ander dae sou dit amper 20 aanvalle op ʼn dag wees. Die veearts het gesê dit mag dalk wees as gevolg van die skok as ek op toer gaan – ons was baie geheg en toe my loopbaan begin, moes ek baie begin toer en op die pad wees. Maar ons weet nie sonder twyfel nie. Ons het egter die laaste keer gedink dit gaan nou beter met hom en dat hy oukei sal wees. Die veearts het nog vir ons nuwe medisyne gegee wat glo beter as die pille sou werk; maar ek het Blikkies nié weer gesien ná daardie video nie.”

Brendan saam met Blikkies (Foto: Facebook)

Celesté was genoop om Blikkies te “laat slaap” terwyl Brendan op die pad was. Sy het hom met dié nuus gebel.

“Sy het net gehuil toe ek die foon optel. Sy het gesê sy weet nie hoe om dit vir my te sê nie, maar ek het gesê ek weet wat sy wil sê, ek kon dit voel. Dít was veral goor omdat ek hom nie vir ʼn laaste keer kon groet nie. My hart voel leeg en stukkend – ʼn troeteldier word só deel van jou lewe dat jy byna nie dink hoe jy sou maak wanneer hulle nié meer daar is nie. Dis maar sleg, maar ons glo dat die beste vir hom was,” vertel hy.

Peyper sê hy koester nou die mooi oomblikke wat hy saam met sy geliefde troeteldier gehad het. Hulle het juis ʼn spesiale band gehad omdat Blikkies nie veronderstel was om sy hond te wees nie – sy pa se hond het ʼn werpsel babahondjies gehad, en die gesin kon een hondjies kies om te hou. Dié hondjie was nie Blikkies nie. Toe hy egter op ʼn dag stort en ʼn hondjie in die agterplaas hoor kerm en dié hondjie red waar sy beentjie onder stene vasgevang was, het Blikkies die hele gesin se harte gesteel.

Een van dié spesiale oomblikke waarna hy verwys wat hy vir ewig sal koester, is juis die opname van die video. “Hy het vroeër die dag ʼn aanval gehad, en toe weer reggekom. Ek was later besig in my kamer met opnames wat ek op sosiale media wou plaas. Hy het by my kom lê en ek wou dié liedjie vir hom sing. Tóé het ek nie geweet dis ons laaste tyd saam nie. Hoewel my hart seer is en ek sy lawwe persoonlikheid sal mis, is ek bly hy is nie in pyn nie. Sy spoortjies sal altyd in my hart bly.”

Ek wens ek kon jou net nog een keer aan die slaap sing. You'll be in my heart ❤️ Rus in vrede my seuna @blikkiespeyper ????

Posted by Brendan Peyper on Friday, September 29, 2017

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

ria nel ·

Ek ht ook n jackie. Volgende my soos n skaduwee. My hart is baie seer vi jou.

annetjie . ·

Ahhhhgggg Brendan so jammer om te hoor van Blikkies , ons wat lief is vir 4 voetige kinders voel saam met jou . Koester al die mooi en lekker wat jul saam gehad het en sterkte daar dit is rerig hartseer om jou companion af te staan aan die dood . Baie sterkte vi jou .

Ware liefde ·

Dis nou werklik ware liefde om jou dier(e) nie te laat ly deur selfsugtig te dink jy is lief vir hulle en sodoende aan die lewe te probeer hou. Dit is hier waar genadedood inkom.

Ilze ·

Ai hoe huil ek nou sommer oor al die diertjies wat afgelope ruk moes slaap. Self ene laat slaap en dit voel of dit nooit beter word. Sterkte Brendan en koester al die mooi.

Paulus ·

As díé nie aandagsoekend is nie, weet ek nie. Dis “ek, ek, ek” “kyk hoe is ek, kyk hoe oulik is ek, ek’t hartseer maar nie so hartseer dat ek nie n video kan neem dat julle my kan sien nie.

Violet ·

Hoe kan jy se hy soek net aandag? Om n dier te verloor is amper so erg as om n vriend te verloor.
Nee man g’n hom om oor sy liefde vir sy hond te sing!

Paulus+1 ·

@violet, Want om n video te maak en dit orals op social media te plaas sodat jy likes kry bewys dit.

Piet Pompies ·

Goeie musiek is die vertolking van ‘n sanger se kunswerk, in hierdie geval is dit die sanger se liefde vir sy hond, goeie nagedagte.

Eurika ·

O maar my hart is nou so seer. Ek moes omtrent veg teen die trane. Ek self weet hoe dit voel om jou skaduwee en hart se punt te verloor. Troos ou dat Blikkies in ‘n liefdevolle huis gewoon het en net die beste vir hom gegee is. Sterkte Bredan! Ek glo dat ons weer ons diere in die diere hemel sal sien.

**anoniem** ·

Ai hoe huil ek nou!!! Sterkte Brendan, my hart is sommer saam joune seer! Weet presies hoe jy voel, hulle bly maar ons beste vriende en selfs al kry mens ‘n ander woef, sal hy/sy nooit die plek van die ander kan inneem nie. Mens raak ook so oneindiglik lief vir hulle!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.