Video: Caroline Grace haar eie heldin in splinternuwe musiekvideo

Caroline-Grace Brüssow. (Foto: Facebook via @carolinegracebrussow)

Dit was op die The Voice-verhoog waar Caroline-Grace Brüssow Suid-Afrikaners se harte gesteel het – en sedertdien sing dié beeldskone sangeres verhoë by konserte, feeste en funksies landwyd aan die brand.

Nóú is sy weer die heldin in die verhaal, maar hierdie keer in die hoofrol van haar eie aksiebelaaide musiekvideo wat kykers – net soos ’n wafferse cowboy-prent – op die punt van hul stoel sal hou.

Caroline Grace het vandag die musiekvideo van “Voor jou” bekendgestel – en wys met dié video dat sy nie net kan sing nie, maar sommer toneelspeel ook.

“Voor jou” is een van die snitte op haar debuut-album, Eindelose Liefde, wat in 2017 uitgereik is en aan haar ’n Ghoema-benoeming besorg het vir Beste Nuweling verlede jaar. Dié liedjie se musiekvideo vertel die verhaal van ’n baie gelukkige cowboy-paartjie met ʼn perd- en beesboerdery en wat deur ’n groepie boewe oorval word.

“Die vrou (Caroline-Grace) kry dit dan reg om te ontsnap en begin dan om een-een van die skelms (Anthony Whitcomb, Zanri Sadie, Eduan du Preez, Edward Dupper) ontslae te raak sodat sy haar man (André Lotter) en die plaas kan red,” vertel vervaardiger Gerhard van Rooyen oor die idee agter die nuutste vrystelling.

Diamond X Cowboy Ranch, anderkant Rayton in Gauteng, dien as die agtergrond waarteen hierdie musiekvideo afspeel. Die omgewing bevat al die regte bestanddele om die kyker sommer uit die staanspoor deel te maak van die aksie, sê Van Rooyen.

“Liefde kan enigiets oorwin, want dit maak jou dapper genoeg om berge te versit om jou geliefde te beskerm,” verduidelik Caroline Grace oor die boodskap wat sy graag met dié video wil oordra. “Ek is nie ’n feminis nie, maar hou van ’n sterk vrou wat haar waarde kan raaksien en daarvolgens kan leef. Daarom is ek mal daaroor dat die vrou, en nie die spreekwoordelike ‘ridder op sy wit perd’ nie, die held is in hierdie storie.”

Caroline-Grace Brüssow. (Foto: Mudboots Wedding & Event Photography)

Caroline Grace, ʼn trotse Bloemfonteiner, is al sedert haar matriekjaar doenig in die vermaakbedryf. Talle kompetisies en konserte, waaronder Oprah Winfrey se gradeplegtigheid, Jy is my Liefling en Beauty and the Beast, het in die dertien jaar daarna gevolg.

In hierdie tyd het sy ook haar LLB-graad verwerf en die verhoog gedeel met groot kunstenaars soos ADAM, Jak de Priester, Jannie Moolman, Valiant Swart, Jannie du Toit, en vele meer. Op ʼn vraag oor die hoogtepunte in haar loopbaan tot dusver, sonder sy haar deelname aan The Voice SA 2017 uit, asook die geleentheid om die volkslied voor die rugbywedstryd tussen die Springbokke en Australië te sing en ’n platekontrak met Universal Music.

Eindelose Liefde is ʼn kontemporêre CD wat uit elf snitte bestaan, waarvan nege deur van die land se voorste liedjieskrywers geskep is, waaronder Vaughan Gardiner, Johan Vorster, Roux Cloete en Niel Schoombee. ’n Pragtige weergawe van die Roxette-treffer, “It Must Have Been Love”, asook ’n duet van Jannie du Toit se “Liedjie Vir Jou” saam met Fatman, maak ook deel van die speellys uit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.