Video: Chereé oor jongste snit: ‘Ons moet weer met mekaar praat’

“Ons leef in ʼn tydperk waar almal in die wêreld, meer as ooit tevore, met mekaar verbind is. Tog lyk dit asof die mensdom vergeet het hoe om op ʼn emosionele vlak met mekaar te kommunikeer.”

Só sê die gewilde countrysangeres, Chereé, oor haar splinternuwe enkelsnit, “Praat”. Volgens haar raak die snit dié belangrike kwessie aan.

Dit is tien jaar sedert sy haar laaste solo-album vrygestel het, en daarom het een van Suid-Afrika se gunsteling-countrysangeresse heelwat om te sê.

“Ek het dié liedjie geskryf omdat ek voel mense praat nie meer regtig met mekaar nie,” vertel Chereé. “Ek wou almal daaraan herinner dat hulle nooit alleen is nie en dat gebed kragtig kan wees wanneer jy niemand het om mee te praat nie. Hy is immers altyd daar om te luister.”

Sy vertel die snit is geïnspireer deur ʼn baie persoonlike gebeurtenis. “ʼn Vriendin het eenkeer vir my ʼn brief getik oor alles wat ek verkeerd doen in ons verhouding. Sy het langs my gesit terwyl ek dit lees en, hoewel ek dankbaar was oor haar eerlikheid, was ek kwaad omdat sy nooit met my oor hierdie probleme gepraat het nie. Op pad huis toe het die idee vir “Praat” ontstaan en teen die tyd dat ek by die huis gekom het, was die liriek byna klaar geskryf.”

Chereé. (Foto: Verskaf)

Chereé. (Foto: Verskaf)

Toe sy die liriek weer deurlees, het sy iets belangriks besef: “Elke woord in die liedjie het ʼn boodskap gedra wat ek graag met my man, kinders, familie en vriende wou deel – dat jy nooit alleen is nie. Ons leef in ʼn tydperk waar tegnologie oorneem en ons nie meer praat nie. Dit is die grootste fout in enige verhouding. Ons moet oor alles praat; die goed en die sleg.”

Chereé glo dat almal daarby sal aanklank vind. “In ‘Praat’ deel ek ʼn stuk van my hart en ek dink dit is ook iets wat talle ander mense voel,” verduidelik sy. “Hoewel die onderwerp universeel is, sal dit iets anders beteken vir elke luisteraar en dis wat ek wil hê – dat dit mense moet laat dink en voel.”

“Praat” is deur Vaughan Gardiner en Hugo Ludik vervaardig en die eindresultaat spog met ʼn opgewekte popklank wat jou uitnooi om dit oor en oor te luister.

Omdat dit die eerste Afrikaanse liedjie is wat Chereé vrystel, is sy oneindig trots op “Praat”. Dit is egter juis weens die boodskap dat sy besluit het om dit as eerste enkelsnit vanaf haar komende album, wat op 31 Mei uitgereik word, vry te stel.

Dié nuwe album sal hoofsaaklik ’n country-aanslag hê, maar ook verskeie popliedjies insluit om iets vir elke oor en smaak te bied.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Tina ·

Ek hou van die liedjie, Cheree het vir my so mooi stem. Sien uit na die album.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.