Video: Chris Chameleon en die Drakensberg Seunskoor

Chris Chameleon verras weer met iets heeltemaal nuuts! Suid-Afrika se singende ambassadeurs, die Drakensberg Seunskoor, het 45 van hul beste studente gestuur om ’n regstreekse CD en DVD saam met Chris Chameleon in die majestieuse teater van die Sudwala Grotte in Mpumalanga op te neem.

Dit is `n baie rare geleentheid om twee uiters talentvolle musiek-reuse saam te sien optree. Daarbysaam vorm die grotte ’n asemrowende en unieke agtergrond, die produksie is van hoogstaande gehalte en dit alles saam maak “Droomland” `n besonderse moet- hê -juweel vir musiekliefhebbers.

Chris was baie opgewonde daaroor om saam met die “Drakies” op te tree en het gesê hy het in sy kinderjare gedroom daarvan om in dié koor van hemelse stemme te sing. “As kind was dit `n groot wens van my om vir die Drakensberg Seunskoor te sing, maar as gevolg van my ma se omstandighede kon ek dit nie doen nie.” Chris het genoem dat hy verras was deur die goedgemanierdheid, dissipline, blymoedigheid en goeie opvoeding van die seuns.

Die koor bestaan uit 11 soprane, 11 tenore, 11 alte en 12 basstemme, en die ouderdomme van die seuns wissel van 12 tot 16 jaar. Jonathan Crossley (kitaar), James Grace (kitaar) en Riaan van Rensburg (tromme/perkussie) het saam met Chris en die koor opgetree.

Die eerste vyf liedjies van hierdie nuwe produksie bestaan uit die Misa Criolla, wat die bekendste werk van die Argentynse komponis Ariel Ramírez is. Hulle doen ook `n spesiale weergawe van “Pie Jesu.” Aanhangers van Chris Chameleon sal van sy grootste treffers, soos “Droomland”, “Droomverlore”, “Lied van die Gebreekte Riete”, “Champion”, “Here Comes the Night” en “Apie” herken. Chris is bekend vir sy gevatte stories en vermaak die gehoor met humoristiese staaltjies soos hy die liedjies aan die gehoor bekendstel.

Bo en gehalwe die groot klassieke werke wat hulle saam uitvoer, het Chris die Drakensberg Seunskoor gemotiveer om die liedjie “Champion”, uit sy monki punk werk vanaf sy Boo! dae, ook saam te sing, met die prettige gevolg van ‘koorpunk.’

Chris Chameleon word beskou as ’n musikale genie op die Suid-Afrikaanse musiekfront en oorsee. Sy indrukwekkende vier-oktaaf-stem en dinamiese verhoogpersoonlikheid het al vir hom groot lof besorg en ook 20 indrukwekkende toekennings gedurende die afgelope 5 jaar, insluitende 2 Suid Afrikaanse Musiek Toekennings (Samas), ’n ere-toekenning van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en onlangs ook die Innibos fees 2012 se Toekening vir Gewildste Produksie vir “In Dreams.” (Die naam van die produksie was getiteld “In Dreams” en was die inspirasie vir die titel van die CD en DVD “Droomland)

Chris Chameleon vertrek op 30 Januarie na Europa vir sy jaarlikse Teatertoer in Nederland. Vanjaar neem hy sy Ingrid Jonker produksie “Klank van jou Oë.” Die toer strek oor n tydperk van drie weke vanaf 1 Februarie tot Sondag 24 Februarie en Chris sal in van Nederland se mees gesogte teaters optree.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.