Video: Chris Chameleon, vrou maak protesmusiek

Chris Chameleon en sy vrou, Daniella, in ‘n skermgreep uit die video.

Chris Chameleon en sy vrou, Daniella, se protesliedjie getiteld “Ramaphoria”, is Saterdag bekend gestel en het reeds sowat 11 000 kykbeurte op YouTube en is bykans 1 000 keer op sosiale media gedeel.

“Mense is bang op die oomblik. Hulle is lekker bang gemaak deur die staat en die media wat die staat daarin ondersteun, en nou kyk hulle verby al die tekortkominge van Cyril Ramaphosa en sien hom as ʼn held – wat hy nie is nie,” verduidelik Chameleon die kernboodskap van die humoristiese protesliedjie.

Die egpaar, wat in November verlede jaar stil-stil ouers van ʼn dogtertjie geword het, het die liedjie saam geskryf. Chameleon sê hul frustrasie met “mense wat nie konsekwent is in hulle oortuigings van ander mense nie”, het hoofsaaklik aanleiding tot die liedjie gegee.

“Mense moet kyk na hoe hulle hom gesien het vóór die [Covid-19] gedoente en ook kyk na wat hy die afgelope twee jaar gedoen het. Hy het niks gedoen nie, hy het net verder bygedra tot die probleme in Suid-Afrika. Hy het geen van die regtige groot kwessies in die land aangespreek nie. Hy het nie die werkloosheidsyfer, misdaad of problematiese arbeidswetgewing aangespreek nie.”

Die liedjie is reeds vyf dae voordat dit die lig gesien het, geskryf en opgeneem. Honkie die Franse papillon het ook ʼn skattige verskyning in die musiekvideo gemaak.

“Ons het voor die kaggel gesit en die ding bespreek, soos ons maar baie doen – ons kyk nie televisie nie, so ons praat baie met mekaar. Ná die soveelste ope brief aan die president op sosiale media, het ons so moeg geraak, en toe kom ons agter maar die goed wat ons vir mekaar sê, is slagspreuke. Terwyl ons gepraat het, het die woord ‘Cyrilphelia’ opgekom en ons het oor ‘Facebook Gestapo’ gepraat. Toe hardloop ons gou en gryp die kitaar, en ons het die liedjie toe saam gekomponeer.

“Daniella het gesê ‘we are led, we are lead, we are sinking’, soos ons word gelei, maar ons sink ook soos lood. Dit het baie vinnig vorm gekry en ons het dit sommer daai aand klaar geskryf. Ons het lank geneem [voor ons dit gedeel het], want ons het gewonder of dit veilig is. Daar is baie streng reëls in terme van wat ʼn mens mag en nie mag doen nie, maar uiteindelik het ons besluit ʼn mens kan nie stil bly nie.”

Chameleon voeg by dat hulle bekommerd is oor die knou wat die ekonomie toegedien word deur die staat van inperking, maar ook oor bewerings van magsvergrype waaraan die regering homself skuldig maak tydens die wêreldwye krisis.

“Dit is alles bewerings, maar die data is daar en ʼn mens kan dit nogal vergelyk, veral in terme van sterftes as gevolg van ander oorsake soos padongelukke of HIV/vigs teenoor die steftes as gevolg van die koronavirus. Die redes vir die inperking is vir my hoegenaamd nie geloofwaardig nie en ek vermoed baie sterk dat daar ander agendas is wat daarop inspeel, wêreldwyd trouens,” sê hy.

Hy vertel dat daar van die teenkanting wat hulle oor die liedjie verwag het, dadels gekom het. “Die meerderheid musikante het sedert die aanvang van die krisis die hoofstroom gevolg, maar as kunstenaars moet ons ons kreatiwiteit gebruik om ʼn ander invalshoek daar te stel. Soos ek in die liedjie meld, het ek in die apartheidsera groot geword en ek is nog weermag toe onder die apartheidstelsel. Die Voëlvry-beweging is een van die groot dinge wat my belangstelling in musiekmaak geprikkel het, en ek weet hoe aktief dié musikante destyds was. Sedert die nuwe bedeling aan bewind is, sien jy nie musikante wat hulle verset teen die regering nie, terwyl al die bewyse daar is dat die nuwe bedeling mense verskriklik benadeel.

“Daarom is ek vreeslik bly dat die reaksie so goed is, want dit sê ook vir my mense is gereed om anders na dinge te kyk en mense is gereed om weer te luister na bietjie protesmusiek.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Stephanie ·

Baie geluk Chris en Daniella – julle het die moed om op te staan vir die feite in hd land waaronder gely word óór die kleurgrens heen. Mag hd die wakker-word oomblik word vir Suid-Afrikaners wat besig is om soos paddas gekook te word! Goed gedaan!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.