Video: Christia Visser terug met tweede enkelsnit

Christia Visser (Foto: Suzanne Swart Photography/Instagram)

Ná die groot sukses van Christia Visser se eerste enkelsnit, “17 Shots”, stel sy nou ʼn donkerder maar ritmiese nuwe liedjie genaamd “Die Deur” vry.

Aanvanklik was Visser meer bekend vir haar televisierolle in Die Boekklub en Ballade vir ʼn Enkeling, maar deesdae hou dié aktrise haar lyf ook sangeres. Haar eerste treffer “17 Shots” beklee tans die nommer 4-posisie op Maroela Media se Afrikaanse Top-20.

Vandag stel Maroela Media eerste die musiekvideo vir “Die Deur” bekend.

“Hierdie liedjie gaan oor ʼn ongesonde verhouding – in enige vorm. Dit gaan oor ʼn verhouding waarin jy jou bevind met ʼn ander mens, maar wie hulle is of wat hulle doen, is nie goed vir jou nie,” sê Visser.

“ʼn Deur word deur die ander persoon in die verhouding oopgelos, en omdat dit oop is, is daar ruimte vir negatiwiteit. Dit gaan oor mense wat in ʼn verhouding is waaruit hulle wil kom, maar te lief is vir die ander persoon om dit te doen.”

“Die Deur” wat, net soos “17 Shots”, uit Visser se eie pen kom, is egter nie nét ʼn hartseer liedjie nie.

“Dit is ʼn donkerder liedjie, maar het ook ʼn Billie Eilish-tipe ritme. So, ʼn mens kan dit in jou kar luister terwyl jy bestuur en lekker saamsing, óf jy kan dit luister as jy alleen in jou kamer sit.

“Al is jy nie self in ʼn ongesonde verhouding nie, ken almal iemand wat is of al was. Veral nou in Vrouemaand is die boodskap van die liedjie relevant,” sê Visser.

In die musiekvideo van “Die Deur” wys Visser ook dat sy nie nét ʼn talentvolle aktrise en sangeres is nie, maar ook ʼn danser.

“Ek dans al vandat ek sewe jaar oud is, maar my loopbaan het so besig geraak en ek het so ʼn paar jaar gelede my dyspier seergemaak en dus opgehou. Maar dit was lekker om nou vir mense daardie deel van my te kon wys. Die dansers wat saam met my in die musiekvideo was, was so liefdevol en ondersteunend, dit was wonderlik,” het sy gesê.

Visser beskryf die dans in die musiekvideo as ʼn “gechoreografeerde geveg”.

“Dit gaan oor ek wat hom liefhet, maar terselfdertyd veg om weg te kom. Daar word bande om my hande gebind en dit verteenwoordig die persoon wat jou vasbind in die ongesonde verhouding. Ek word in dié bande vasgebind waar ek nie kan loskom nie,” verduidelik sy.

Visser sê dit is nog vir haar ʼn aanpassing om aan die lewe van ʼn sangeres gewoond te raak, maar dat sy steeds haar sangloopbaan wil uitbrei.

“Ek raak so stelselmatig gewoond daaraan. Ek het onlangs by die Krone-konsert opgetree, en dit was die eerste optrede wat ek gedoen het sedert ek op laerskool was. Maar ek móés dit net doen, en dit was baie lekker.”

Sy sê sy het in haar kort rukkie as sangeres reeds baie geleer oor die Suid-Afrikaanse musiekbedryf en dat sy al baie mense daarin leer ken het.

Maar soveel soos sy daarvan hou om sangeres te wees, sal sy nie haar loopbaan as aktrise prysgee nie. Sy weet dit gaan moeilik wees om albei loopbane te balanseer, maar meen sy het genoeg mense wat haar help en ondersteun om albei te verwesenlik.

“Om aktrise te wees is ʼn groot deel van wie ek is – dit is vir my baie belangrik. Vir eers vat ons dit stap vir stap. Daar is nog baie planne in aantog en ek wil beslis my sangloopbaan ook uitbrei,” sê sy.

Kyk die musiekvideo van “Die Deur” hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.