Video: Coffee Snobs sing oor gebrokenheid en heel word

Vernette en Marius Wessels (Foto: Facebook)

Die musiekduo Vernette en Marius Wessels, oftewel Coffee Snobs, het pas hul jongste enkelsnit en musiekvideo, “Stetoskoop”, bekendgestel.

Dié liedjie het reeds sowat twee jaar gelede uit Vernette se pen gekom, en hulle het onlangs uiteindelik besluit dit is nou die regte tyd om dit uit te reik.

Vernette vertel aan Maroela Media dat die liedjie oor gebrokenheid gaan, maar ook oor heelwording. Die woorde van dié lied wil mense herinner dat jy nie gebroke hoef te bly as iets jou seergemaak het nie.

“In die lewe is daar niemand wat nie gebrokenheid of probleme het nie. Ek het besef mens moet net na jouself kyk en besef jy is gebroke. Jy hoef egter nie so te bly nie; jy kan weer heel word. Jy moet genesing kry van alles wat voorheen met jou gebeur het,” sê sy.

Vernette vertel dat die musiekvideo ʼn baie subtiele manier het om situasies waarin mense gebrokenheid ervaar uit te beeld, soos byvoorbeeld die dood van ʼn geliefde.

“Mag elkeen van ons die dapperheid hê om ons gebrokenheid in die oë te kyk en te trotseer sodat dit weer heelwording tot gevolg kan hê en ons ʼn lewe in oorvloed kan beleef,” sê sy.

Vernette, wat tans sewe maande swanger is, sê hulle probeer om positief te bly in die isolasietydperk.

“Aangesien ek so ver swanger is, sou ons in elk geval nie nou kon optree nie, so ons probeer die goeie daarin sien. Maar dis vir ons almal moeilik; dis vir niemand lekker nie. Maar dit gaan goed met ons onder die omstandighede.”

“Stetoskoop” sal eersdaags op alle digitale platforms beskikbaar wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae