Video: Cordelia vier die lewe met jongste enkelsnit

Die sangeres Cordelia, wat vir ʼn Ghoema-toekenning vir beste kontemporêre album deur ʼn kunstenares vir haar album Wees Lief benoem is, is terug op die klankgolwe met ʼn enkelsnit wat die lewe vier.

“Lepel in die dak” is uit die pen van Niel Schoombee en handel oor ʼn goeie gevoel. “Dit is ʼn regte dansliedjie,” vertel Cordelia, wat bekend is vir treffers soos “Mal in jou kop” en “Volmaak”.

“Dit het ʼn lekker tong-in-die-kies-liriek wat nét in Afrikaans gesing kan word. Mense geniet die liedjie vreeslik by my vertonings. Ek wil graag daarmee die lewe en geluk vier.”

Volgens Cordelia is dié snit een van haar gunstelinge op die album wat verlede jaar vrygestel is. Sy hoop die liedjie sal aanklank vind by almal wat daarna luister en dat hulle sommer gou op die dansbaan sal boer. “Die liedjie het ʼn positiewe gevoel en sal jou sommer gou weer laat lus voel vir die lewe.”

Die musiekvideo vir “Lepel in die dak” is deur Zander de Beer vervaardig en is geskiet in die strate van Pretoria naby Menlyn Maine.

Cordelia is ook vanjaar in Augustus by die Krone-vertonings te sien en toer tans die land plat met haar Ma-en-Dogter-vertonings. Sy het vroeër vanjaar in ʼn onderhoud met Maroela Media vertel sy het een nag ʼn droom gehad waar sy krone op vroue en hul dogters se koppe plaas en dit het die saadjie in haar hart geplant om vroue in Suid-Afrika te bemagtig deur gebroke verhoudings tussen ma’s en hulle dogters te herstel.

As aanneemkind het sy self vir jare met gevoelens van verwerping gewroeg, het sy gesê. “Ek het gebid [oor my droom], want dit het niks met my loopbaan te doen nie, dit is net my hart. Toe stig ek amptelik die Inspirerende Ma en Dogter van die jaar-projek, want ek wil vir Suid-Afrikaanse vroue jaar na jaar herinner hoe inspirerend hulle kan wees. Dit gaan nie oor status of oor voorkoms nie, maar ek is op soek na iemand wat ʼn verhaal het wat ander kan inspireer.”

Enigiemand wat met Cordelia in verbinding wil tree oor die Inspirerende Ma en Dogter-projek, die glansaande of met haar wil gesels oor berading, kan haar kontak by 060 654 5208 of ʼn e-pos stuur na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.