Juandré Nortje (22) van Pretoria is onlangs gedoop as Suid-Afrika se dansende boertjie nadat ʼn video waarin hy, geklee in ʼn tweekleurige kraaghemp en kakiebroek, Afrika-danse doen op TikTok versprei is.
Nortje het die video waarin hy en ʼn vriend op die plaaslike kunstenaar MFR Souls se lied “Amanikiniki” dans ʼn week gelede op TikTok gedeel, en sedertdien het dit al meer as 660 000 kykbeurte gekry. Hy het reeds meer as 110 000 volgelinge op dié video-app.
Mense op sosiale media is gaande oor die “boertjie” wat Afrika-danse doen.
Nortje vertel aan Maroela Media dat hy op 12-jarige ouderdom begin dans het en nog altyd aanklank vind by hip-hop en Afrika-dansstyle.
Nortje is ʼn opgeleide professionele danser, maar werk tans in die versekeringsbedryf. Die video is geneem tydens ʼn opname van die musiekgroep Jan Jan Jan se musiekvideo vir sy lied “Gooi mielies”.
In die video lyk Nortje soos ʼn volwaardige boer in Jan Jan Jan se Boerboel-klerereeks, maar hy vertel dat hy eintlik glad nie ʼn boer is nie.
“Ek kom nie van ʼn plaas af nie, ek kuier net daar,” skerts hy. “Ek kom van die stad af en ek dra nie in my alledaagse lewe sulke klere nie. Maar dit was op die stel van Jan Jan Jan se musiekvideo wat die video gemaak is.”
Nortje sê die gedagte het ontstaan tydens ʼn breuk in die verfilming van die musiekvideo, toe hy en ʼn vriend aan bewegings gewerk en dié dans gedoen het.
“Ons het nie beplan om in daardie klere te skiet nie, maar ek is bly ons het, want kyk wat het gebeur!”
Nortje sê hy het nie verwag dat die video so baie aandag gaan trek nie, maar hy kry wel ʼn goeie gevoel deur sy lyf elke keer wanneer hy sien nóg ʼn bekende mens of ʼn platejoggie het sy video op sosiale media gedeel.
“Ek is nie gewoond hieraan nie. So iets het nog nooit vantevore met my gebeur nie, maar dit is vir my so lekker. En die feit dat ek mense kan inspireer, is wonderlik; die kommentare wat ek daarop kry, is baie positief en bemoedigend,” sê hy.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
3 Kommentare
O genade.
Dankie dat julle ‘n glimlag op ons gesig kan sit. Glimlagte is maar ‘n rare verskynsel deesdae. Tien uit tien vir julle!
Maar hul is dan 2 wat dans, nou wie is die ander outjie. Of dalk is dit net ek wat 2 sien?