Video: Deon Groot se ‘Hemelpoorte’ ʼn kragballade

Agter die skerms van ‘Hemelpoorte’ se musiekvideo. (Foto: Verskaf)

“‘Hemelpoorte’ is ’n liedjie oor ʼn man wat kan opstaan en sê hy is lief vir sy vrou. Ek kan nie genoeg beklemtoon hoeveel dit vir my beteken om dié boodskap met almal te deel nie.”

Só sê die rasperstem-sanger Deon Groot oor sy splinternuwe kragballade, “Hemelpoorte”. Die musiekvideo vir dié snit is vandag vir die eerste keer op Maroela Media te sien.

“Hemelpoorte” is uit Groot se eie pen en die liedjie lê hom na aan die hart. “Dit gaan oor daai één groot liefde met wie jy jou lewe deel. Dit is ʼn liefdesballade vir my toekomstige vrou,” sê hy.

“Toe ek dit geskryf het, het ek gaan sit en dink hoe ek eendag graag oor die groot liefde van my lewe wil voel wanneer ek haar vind en watter soort man ek vir haar wil wees. Dit is my hartslied oor wat ek voel liefde moet wees en ek glo baie mense sal daarby aanklank vind.”

Dié lied verskil hemelsbreed van sy vorige enkelsnitte en wys sy dieper kant as liedjieskrywer, storieverteller en sanger vir die publiek.

Agter die skerms van ‘Hemelpoorte’ se musiekvideo. (Foto: Verskaf)

“My vorige musiek gaan oor kuier en goeie tye, so hierdie lied is iets heeltemal anders. Dit beskryf wat ons verwag van die liefde, maar ook oor wat ons kan bereik met God in ons liefde saam. Daarom beklemtoon ek ook Bybelse eienskappe in die liriek – soos salf aan die deurkosyne om ons huis saam te seën. Dit is vir my sinoniem van wat ʼn verhouding moet wees en hoe ʼn paartjie saam moet groei in die oë van God.”

Die musiekvideo speel af in ʼn boshuis en vertel die storie van ʼn man (vertolk deur Groot self) wat die nuus ontvang dat hy nie ʼn nierskenker kon kry nie en dat hy net ʼn paar dae het om te leef. In plaas daarvan om vir sy vrou, gespeel deur Lujuan Mzyk, te vertel, maak hy die beste van die tyd wat hulle nog saam het.

“Aan die einde neem dinge ʼn onverwagse wending,” verklap die sanger.

“Hemelpoorte” is beskikbaar op die album Deon Groot wat verlede jaar uitgereik is. Die album is op Spotify, Google Play Music en Deezer beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.