[Video] Die Bult kreun onder Aardklop-feesgangers

‘n Skermskoot uit die video

Die Bult in Potchefstroom kreun vandeesweek behóórlik onder die duisende feesgangers wat na dié Noordwes-dorp gestroom het om die Aardklop Nasionale Kunstefees te ondersteun.

Meer as 70 000 feesgangers word deur die loop van die week by dié fees verwag.

Stalletjie-eienaars is al sedert die naweek besig om hul tydelike tuistes – in sowat tien markiestente en 30 kleiner tente – op te slaan.

Benewens die fees se voor die handliggende aantrekkings, soos die verhoogproduksies waarvan sowat 25 vanjaar debuteer asook ʼn groot aanbod in musiek en die visuele kunste, spog vanjaar se fees met meer as 40 kosstalletjies – talle wat al ʼn dekade of langer by die fees te sien is. Onder dié bekendes is Kobus se Gat, die NG Kerk Hennenman se kerrie, rys en gevulde jaffles-stalletjie en die AGS se lewerstalletjie.

Feesgangers loof die fees vanjaar stééds vir die besluit om Aardklop weer op Die Bult aan te bied. Die Bult was sedert 1998, toe die eerste fees gehou is, die tuiste van die fees. Die stalletjies is mettertyd na die Noordwes-Universiteit se sportgrond verskuif. Nadat nuwe lewe verlede jaar in die fees ingeblaas is en Alexa Strachan as feesbestuurder oorgeneem het, is dié fees weer na sy “tuiste” teruggeskuif.

“Aardklop is vanjaar weer fantasties! Dis ongelooflik lekker om weer die fees op Die Bult te hê – daar is net ʼn ander soort gevoel hier as wat daar voorheen was. Die kos is lekker, die musiek is wonderlik en buiten vir die terrein bied vanjaar se fees ook ongelooflike produksies,” het een van die feesgangers op die terrein laat hoor.

Feesgangers kan dié jaar weer uitsien na bekostigbare toegang tot die terrein en vermaak vir die hele gesin.

“Aardklop is vanjaar weer op Die Bult en die toegang bly boonop ook dieselfde. Toegang tot die terrein is weer R20 – kinders jonger as 12 jaar kry gratis toegang en ʼn weekpas kos R60. Dis spesifiek só gedoen sodat die feesganger nog ʼn geldjie het om die terrein, die stalletjies en die fees te ondersteun. Jy moet natuurlik ook produksiekaartjies koop – ons is immers ʼn kunstefees,” sê Strachan.

Hier is ʼn paar produksies waarvoor jy veral moet uitkyk:

  • Taxiteater: Dié projek word vanjaar uitgebrei. Vanjaar vaar kunstenaars die strate in op soek na nuwe talent. Wanneer die feesganger in die taxi spring, kry hy of sy nie net “die plaaslike ervaring” nie, maar ook dié van jong talent.
  • Debuut musiekproduksies: Die Woordenaars (met Stef Bos, Spoegwolf, Jo Black, Koos van der Merwe en Herman Kleynhans) en Ekstravaklassiek (Chris Chameleon).
  • Die Aardklop-pronkpodium is die nuwe platform vir tiener- en studenteproduksies.
  • Van een-tot-een-teater – één akteur en één gehoorlid – tot gemengdemedia-installasieteater.
  • PG: ʼn Lewe vol… is ʼn huldeblyk aan PG du Plessis, bekroonde dramaturg, draaiboek- en romanskrywer asook storieverteller.

Kaartjies vir alle produksies is beskikbaar by Computicket. Toegang tot die feesterrein op Die Bult kos R20. ʼn Weekkaartjie sal jou R60 uit die sak jaag. Vir meer inligting, besoek Aardklop se webwerf.

Lees meer oor Aardklop 2017 op Maroela Media. Luister ook ʼn volledige onderhoud met Alexa Strachan, feesbestuurder, oor wat vanjaar se fees inhou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Johnny ·

Was nog nooit by een van die baie kunstefeeste nie. Miskien is ek armer?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.