Video: Die Flooze, Vincent Gordon span saam vir nuwe danssnit

Grapjas-sangeres die Flooze en sanger Vincent Gordon span saam om ʼn splinternuwe Afrikaanse dansliedjie, “Tiektok”, vir oud en jonk te bring.

Die Flooze, wat ook onder haar regte naam Sorina Erasmus optree en musiek skep, het “Tiektok” saam met Waldo Greeff geskryf. Die liedjie is deur Ferdinand Skead vervaardig.

Die dieper boodskap van die liedjie is dat ons elkeen elke dag dieselfde hoeveelheid tyd het en dat ons dit ten volle moet benut.

“Die horlosie staan vir niemand stil nie, daarom moet ʼn mens die beste van elke sekonde maak omdat elke oomblik belangrik is,” sê die Flooze.

Volgens Gordon sal die liedjie luisteraars na die dansvloer toe lok. “Mense sal net lekker lyf kan skud op die nommer, die woorde is catchy en word positief oorgedra,” sê hy.

“Ons het ʼn klomp elemente en aspekte van tyd gevat en onsself in die ratwerk van ʼn horlosie geplaas om seker te maak dat ʼn mens met elke sekonde voluit lewe. Die liriek het alles met tyd te doene wat dit van toepassing maak op alle ouderdomsgroepe,” sê die Flooze.

Daar is ook ʼn prettige musiekvideo wat verlede week saam met die enkelsnit vrygestel is. “Die konsep van die musiekvideo is om te wys hoe vinnig tyd verloop,” verduidelik Vincent.

Die Flooze op die stel van die musiekvideo vir ‘Tiektok’. (Foto: Facebook)

“Elke tydsaspek van ʼn jaar, soos seisoene, vakansies en gebeure, speel af teen tyd binne die ratwerk van ʼn horlosie wat in die vorm van ʼn doolhof aanmekaargesit is.”

Die Flooze verduidelik die musiekvideo as ʼn videospeletjie met ʼn tydbeperking en sy en Gordon is die karakters wat die jaar binne ʼn sekere tyd moet klaarmaak.

Luther van der Watt en sy span van Yellow Lemon Media en AVC Studios het die video verfilm en vervaardig.

Die doolhoftonele is verfilm by die De Harte-venue net buite Pretoria. Die ander gedeelte is voor ʼn groenskerm opgeneem waar ʼn tegniek gebruik is om die karakters in verskillende skote op dieselfde skerm te plaas.

“Die afgelope paar weke in afsondering weens die Covid-19-pandemie het ʼn mens die waarde van tyd net nog dieper laat besef.

“Vir party mense het die tyd gevlieg en vir ander het dit stil gestaan. Vele dinge het ons tyd gesteel. Tog tik die tyd voort en het ons almal elke dag die keuse om die beste te maak van die beskikbare tyd,” sê die Flooze.

“Tiektok” is op alle groot digitale platforms beskikbaar.

Kyk hier na die musiekvideo:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.