Video: ‘Die Kaplyn’, ʼn verhaal van familie, vergifnis

Maroela Media het agter die skerms by ‘Die Kaplyn’ gekuier. (Foto: verskaf)

’n Verhaal van familie, vergifnis en die verlore seun wat eindelik sy nederige terugkeer na sy vaderhart en -huis gemaak het.

Dít is wat mense kan verwag wanneer hulle later vandeesmaand hul teatersitplekke inneem om Die Kaplyn te kyk.

“Die grootste ding van die musiekspel waarna mense kan uitsien, is persoonlike salwing,” het Carmen Basson, wat die rol van Dezi vertolk, aan Maroela Media tydens ’n agter-die-skerms-kuier vertel.

Die Kaplyn, uit die pen van die skeppers van Die Gelofte, speel in die 1980’s af en vertolk die oorlogsverhaal wat alombekend in Suid-Afrikaanse huise is.

“Mense moet Die Kaplyn met ’n oop gemoed kom kyk,” sê Jannes Erasmus, skrywer en regisseur van Die Kaplyn.

Alhoewel die verhaal in oorlog gegrond is, is dit ’n fout om te dink dat dit net oor oorlog handel, meen Jannes.

Voordat die gehoor saam met die spelers die pad oorlog toe gaan stap, of met angstige, vreesbevange moeder- en susterharte gaan wag vir nuus van die grens af, gaan daar ’n verkenningsreis deur dans en saamsing-treffers plaasvind.

Die kollig gaan egter bly op die kern van die musiekspel: vergifnis en die terugkeer van die verlore seun.

Die kreatiewe span agter die musiekspel sluit Jannes, Johan Vorster (storie- en konsepskrywer, musiek- en liriekskrywer, musiekregie en teks), Jacomien de Wet (musiek- en liriekskrywer) en Francois Lessing (orkestrasie en musiekregisseur) in.

Jacomien se dogter, Abigail, sal ook in die produksie te siene wees.

“Ons sien uit na ’n musiekspel wat ons gaan terugvat na die tagtigs toe. Daar is ’n inry, daar is valskerms, daar is mense wat uit vliegtuie uitspring,” vertel Jannes.

“Dit is iets waarna ons jonger mense met heimwee na kyk en wens dat ons dit nog kon hê. Die ouer garde gaan weer hier kom sit en sê, ‘dis hoe dit was’ – en daarna sien ek uit.”

Die groep akteurs wat in Die Kaplyn te siene gaan wees is tans hard aan’t werk om elke beweging, woord en noot perfek op die verhoog te laat afspeel.

Die verhoog is gevul met bekende gesigte, veral vir diegene wat Die Gelofte in 2022 gaan kyk het. Jackie Lulu, Ilán van Staden, Dihan Keun, Révan Luüs, Deidré Barnard, Anika de Beer, Zöricke Snyman, J.J. Roberts, Zijn-Rudolph van Zyl en Carl Trautman keer almal terug na die verhoog wat verlede jaar hul tuiste geword het.

Nuwe gesigte in die musiekspel sluit Carmen Basson, Rita Li, Duandré Vorster en Abel Knobel in.

Daar is reeds nagenoeg 3 000 kaartjies vir dié musiekspel verkoop, iets wat Jannes as “bewys van mense se honger vir teater” beskou.

Dié musiekspel, vervaardig deur Inhoudhuis Musiek in samewerking met AfriForum, sal van 26 April tot 21 Mei vanjaar by die AfriForum Teater in Pretoria te sien wees. Koop jou kaartjies hier.

Kyk na Maroela Media se kuier agter Die Kaplyn se skerms hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.