Video: Dirk se nuwe liedjie ‘stout maar ook soet’

Dirk van der Westhuizen (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Dirk van der Westhuizen se jongste musiekvideo vir sy liedjie “Lusmakertjie” is vandag eerste op Maroela Media te sien.

Van der Westhuizen het die afgelope twee jaar behoorlik naam gemaak in die Afrikaanse musiekbedryf met treffers soos “Sexy vi my” en “Strooi jou suiker op my”, en het by Afrikaans is Groot opgetree én is vanjaar vir ʼn Ghoema-toekenning benoem. Sy jongste album, Stoom, is in Junie vanjaar uitgereik.

Van der Westhuizen beskryf “Lusmakertjie” as ʼn tong-in-die-kies liedjie. “’Lusmakertjie’ is ʼn bietjie stout, maar soet ook. Die lirieke praat vir hulself,” sê hy.

Die musiekvideo van “Lusmakertjie” is op die stel van die bekende kykNET-sepie Getroud met rugby geskiet en twee van dié sepie se akteurs is ook daarin te sien.

“Koekie (Rina Nienaber) en Vestus (Louis van Niekerk) maak kos in die musiekvideo, maar flankeer tussendeur. Ons wys dat dit nie saak maak of jy oud of jonk is nie, ʼn mens kan nog steeds flankeer en mekaar spesiaal laat voel,” sê Van der Westhuizen.

Van der Westhuizen en sy “vrou” bak ook saam, maar terwyl Vestus en Koekie ʼn groot sukses van hul gereg maak, is Van der Westhuizen en sy maat se gereg ʼn totale mislukking.

“Ek gooi onder meer Coke en koffie in die koekies, so dit is ʼn groot gemors. Maar dit was hope pret. Nadat ons die video geskiet het, was ons almal so vuil en vol meel en deeg, maar dit was ʼn baie lekker ervaring,” sê hy.

Dirk van der Westhuizen en Koekie in “Lusmakertjie” (Foto: Skermgreep uit video)

Anders as in baie van sy ander musiekvideo’s dans Van der Westhuizen nie in “Lusmakertjie” se video nie.

“Ek het ʼn ongelooflike liefde vir dans. Ek was ʼn groot aanhanger van mense soos Britney Spears, Justin Timberlake en Michael Jackson toe ek jonger was. Ek het altyd voor die televisie gestaan en hulle danspassies geleer. Meeste van die choreografie in my loopbaan het ek self uitgewerk,” sê hy.

Van der Westhuizen vertel ook dat die Amerikaanse popsanger Britney Spears iemand is na wie hy opkyk in die vermaakbedryf.

“Sy het altyd as sy toekennings wen, vir die Here dankie gesê en altyd oor Hom gepraat in onderhoude. Daarom wou ek soort van hulde bring aan haar met my liedjie “Stoom”. Dié liedjie is anders as wat ek al ooit gedoen het; dit is ʼn Britney-tipe liedjie.”

Dirk van der Westhuizen in “Lusmakertjie” (Foto: Skermgreep uit video)

Die album waarin “Lusmakertjie” voorkom, Stoom, het ook twee gospel liedjies.

Behalwe vir sy musiek, is Van der Westhuizen ook bedrywig met ʼn oefenklere-reeks én parfuum vir mans en vroue.

“Ek is betrokke by elke liewe item van die klerereeks. Die reeks maak ook voorsiening vir plus-grotes.” Van der Westhuizen se parfuum vir vroue ruik sag, vroulik en soos blomme, terwyl sy parfuum vir mans ʼn gesofistikeerde sitrusgeur het. Albei dié parfuums heet Stoom.

Van der Westhuizen se kalender is propvol vertonings vir die res van die jaar. Vir meer inligting oor dié vertonings besoek sy Facebook-blad hier. Vir sy aanlynwinkel kliek hier.

Kyk na die musiekvideo vir “Lusmakertjie” eerste hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

LINDA ·

Ek het hom gaan kyk gelike en geshare dit moes vele pret gewees het om dit te maak

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.