Video: Drakies bekoor met Ed Sheeran-verwerking

‘n Skermgreep uit die Drakensberg-seunskool se video vir “Afterglow”.

Die Drakensberg-seunskool in Winterton, KwaZulu-Natal, se verwerking van Ed Sheeran se treffer “Afterglow” is tans ʼn treffer op sosiale media.

Die video van die verwerking, wat deur die skool vervaardig is, het soos ʼn veldbrand versprei en het ook reeds amper 20 000 kykbeurte op YouTube gekry.

Brett Fernihoug (voorsanger), Vuyo Mcanyana (alto-harmonie), Joshua Stuart (tenoor-harmonie) en Walther de Bruin (bas-harmonie) is saam met Ntando Ngcobo (kitaar), Zipho Mpofu (cajon; boksdrom) en Boaz Tselon (viool) deel van die groep seuns wat hulle engelstemme en musikale talente aan die verwerking verleen het.

Vaughan van Zyl, direkteur van musiek en koordirigent, vertel dié groep seuns is deur ander leerders van die skool vir die verwerking voorgestel.

Die verwerking was die geesteskind van Tristan Trent, musiekregisseur van die skool. Hy het ook die videografie behartig. Van Zyl en Trent is albei oudleerders van die Drakensberg-seunskool en gee sedert die begin van die jaar klas by dié skool.

“Ons het begin om video’s te vervaardig sodat ons saam met die moderne tye kan beweeg. Dit is vanjaar die eerste jaar dat ons ʼn permanente musiekregisseur aangestel het en die idee vir dié verwerking was syne,” vertel Van Zyl aan Maroela Media.

“Tristan maak die ongelooflikste opnames as musiekvervaardiger en het ook die video self gemaak. Ek dink hy is self verbaas oor hoe vinnig die video opslae gemaak het.”

Die Drakensberg-seunskool tree weer op. (Foto: Facebook/Drakensberg Boys Choir)

Hy vertel die video’s was veral vir die seuns ʼn troosprys in ʼn tydperk toe die koor – wat gewoonlik heel jaar lank toer – weens die Covid-19-pandemie nie kon reis nie.

Daar is tans 95 seuns van gr. 4 tot gr. 9 in die skool. Die seuns woon voltyds in die koshuis en is van reg oor die land, en selfs die buiteland, afkomstig. Die skool het plek vir 120 seuns.

“Ons bly die heeltyd goeie terugvoer kry oor die video en mense is mal oor die verwerking en hoe die video lyk met die bekende berge in die agtergrond.

“Die video is op die skoolterrein geskiet in die lang veldgras. Die sewe seuns se talente het mense ook weggeblaas en mense lewer veral baie positiewe kommentaar oor die basstem. Mense is onder die indruk hier is net seuns wie se stemme nog nie gebreek het nie by ons, maar dit is nie die geval nie.”

Van Zyl vertel daar is vanjaar vier nuwe personeellede in die musiekdepartement van die skool aangestel: Hyself en Trent, asook Lisa Joubert – “die regte Lisa van Lisa se klavier” – as direkteur van akademiese musiek, en Zakes Nkosi as choreograaf.

“Ons werk ongelooflik hard, maar dit is baie lekker. Ons elkeen leef absoluut ons passie uit.”

Hoewel dit ʼn sogenaamde koorskool is, is die skool steeds akademies baie sterk omdat die seuns wat die skool aan die einde van gr. 9 verlaat op standaard met ander skole se kurrikulum moet wees.

“Wat in ons guns tel, is dat die seuns almal in die koshuis woon, so ons kan oor naweke of na skool ʼn kooroefening inwerk as ons moet.”

Volgens Van Zyl is daar deurlopend nuwe video’s en verwerkings wat beplan word. “Ons wil nog ʼn hele paar video’s uitbring tot aan die einde van die jaar.”

Hy benadruk dat seuns wat belangstel om in die skool te wees, oudisies kan aflê sonder enige musikale agtergrond. Daar is ook vervoer vir kinders wat in Gauteng op plekke soos Pretoria en Johannesburg woon.

Die koor het spesiale toestemming gekry om tydens die Covid-19-inperkings met hulle kooroefeninge voort te gaan, aangesien die skool so geïsoleerd is.

Die koor lewer ook tans vertonings in die Ken MacKenzie-ouditorium van die seunskool en kan 250 gehoorlede per konsert akkommodeer.

Kaartjies vir die vertonings is hier beskikbaar.

Vir meer inligting oor die skool besoek die webwerf en vir meer video’s sluit aan by die YouTube-kanaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.