Video: Eerste kykie na Almero se ‘Monochromie’

Weinig ander het al bereik wat die sanger Almero op 20-jarige ouderdom vermag het: hy het reeds sy eie digbundel, ʼn kortverhaal en twee enkelsnitte, en nou stel dié sanger Vrydag ook sy eerste kragballade bekend.

Almero vertel sy jongste snit, “Monochromie”, gaan oor “’n gevoel wat die meeste mense ervaar: die soeke na iemand wat ons ‘tuis’ kan noem”.

“Ons almal soek na iemand wat ons nuwe dinge kan leer; laat voel en sien. Die snit maak die stelling dat hierdie persoon, indien daar so iemand is, jou wêreld sal verkleur in kleure wat jy nie geweet het bestaan nie. Dan is daar ’n smekende aspek in die liedjie, ’n pleitroep dat hierdie persoon moet bly,” verduidelik hy.

“Ek is iemand wat baie waarde heg aan my huis. Sedert ek in 2015 uit my ouerhuis getrek het, is ek geneig om die mense om my te sien as my ‘huis’. Die liedjie vang iets vas waaraan ek gereeld dink. Ek dink ons almal is op soek na ’n huis en ek hoop hierdie liedjie kan ’n ‘huis’ word vir mense om in te rus.”

Aanhangers het dié sanger al voorheen onder meer op die verhoog gesien saam met die sanger Bouwer Bosch by die OppiKoppi-musiekfees en in die musiekvideo vir die temalied vir die fliek Nul is nie niks nie.

“Om stories te kan hoor van mense is altyd vir my die hoogtepunt. Musiek bied my ’n baie groter platform om mense te ontmoet en hulle stories te hoor. Dit is ’n ondenkbare voorreg. Ek skryf en maak musiek om die wêreld en moeilike dinge te kan verstaan. Dan skryf ek musiek wat vol beelde en metafore is en my stem word die instrument waarvan ek die handleiding verloor het.”

Die sanger wil graag grense in die Afrikaanse musiekbedryf verskuif deur diepsinnige lirieke met moderne en interessante klanke te kombineer. “Monochromie” vergestalt hierdie doelwit.

“Monochromie se musiekvideo is ʼn elegante uitbeelding van wat in my gedagtes gebeur het tydens die skryf van die liedjie. Die kamera vertolk die rol van die persoon wat soek, en die danseres is die persoon na wie gesoek word. Hierdie storie oor ’n soektog is die ruggraat van die lied,” sê hy.

Almero bemark tans sy boek, Donderweer Gedagtes, en het in 2017 saam met Bouwer Bosch die digbundel, Liefde Wen, uitgereik.

Die musiekvideo vir “Monochromie” is in die hartjie van Johannesburg op die dak van PropStars verfilm. Nico Welgemoed, die sanger se broer, het die video vervaardig en Bouwer Bosch was die regisseur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.