Video: Elandré balanseer werk en speel in nuwe musiekvideo

Elandré (Foto: Facebook)

Die blondekop rabbedoe-sanger Elandré sê dit is maklik om vasgevang te word in jou werk, eerder as om jou lewe te leef, en dit is presies waarteen sy nuwe musiekvideo kapsie maak.

Die musiekvideo vir die liedjie “In hierdie ding” word vandag eerste op Maroela Media bekendgestel.

“’In hierdie ding’ was seker een van die lekkerste liedjies om aan te werk,” vertel Elandré. “Dit is ’n goedvoel liedjie, wat handel oor die klein dinge wat die lewe saak laat maak. Dit handel oor vertroue en om na aan mekaar te wees… iets wat ek seker is ons almal baie mis in dié afsonderingstyd.”

Elandré sê hy het al van tevore, soos baie ander mense, meer gewerk as geleef en dat dít na ʼn tyd ʼn impak op enigeen sal laat.

“Hierdie musiekvideo gaan juis oor die teenoorgestelde. Dit is so bietjie van ’n uitbeelding dat die lewe soms gelééf moet word. Hou aan werk, en hou aan klim, maar vat so elke nou en dan tyd vir jou en jou hartsmense,” sê hy.

Elandré sê hy gebruik sy isolasietyd om te ontspan, musiek te skryf en om nader aan die kunste te beweeg. Hy bied ook  op 1 Mei sy eerste aanlyn vertoning aan as deel van die My Hart Klop Teater-projek.

Hy was ook onlangs die eerste gas op Karen Zoid se bekende kletsprogram Die Republiek van Zoid Afrika, waar hulle ook saam hul eie weergawe van sy bekende liedjie “Vuur op die water” opgevoer het.

Elandré vertel dat hy nog altyd ʼn groot aanhanger van Zoid was en dat hy uit sy nate was toe sy hom na haar program toe nooi as ʼn gas.

“Ek het twee A3-grootte canvas foto’s van Karen laat decopage en teen my muur gehang as tiener. Ek het nog altyd uiterse respek vir haar talent, haar menswees en haar standvastigheid gehad.

“Ek was op die pad deur die Tuinroete van Kaapstad na Port-Elizabeth toe ek haar uitnodiging ontvang het. Ek het af getrek, uitgefreak en aangery,” vertel hy.

Elandré sê hy is konstant besig om te skryf en dat hy ook pas klaargemaak het met ʼn lied op Andriette Norman se nuwe album, Hartsland.

Hy sê dit is vir hom lekker om saam met ander kunstenaars te werk om iets te skep en dat hy hoop om in die toekoms nog baie sulke soort werk te doen.

“In hierdie ding” kom voor op Elandré se jongste album Boomhuis. Die album is op alle digitale platforms en musiekwinkels beskikbaar.

Volg Elandré se Facebook-bald hier en Instagram hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.