Video: Elizma Theron se boodskap aan álle vroue

Elizma Theron (Foto: Facebook)

Dis gʼn cliché dat skoonheid nié bloot met looks te doen het nie, sê die Afrikaanse sangeres Elizma Theron. Om die waarheid te sê, sy voel so passievol oor dié boodskap, dat sy dit tot aan die uithoeke van die aarde wil verkondig – en dít gaan sy doen met haar jongste musiekvideo wat pas bekend gestel is.

Theron sê dié musiekvideo, wat “Marilyn Monroe” heet, wil elke vrou herinner aan hul eie skoonheid – en ook dat skoonheid inderwaarheid nié te make het met agtergrond, ouderdom of die grootte van jou klere nie.

“Marilyn Monroe was die toonbeeld van skoonheid en vrouwees,” vertel die sangeres. “Met hierdie liedjie wil ek elke vrou herinner dat jy ʼn Marilyn Monroe binne jou het en dat dit belangriker is dat jý haar in jouself raaksien as dat die wêreld haar raaksien. Vandag se vroue is té gereeld totaal oorweldig deur dinge wat hulle moet doen en om ander tevrede te stel, dat hulle te min tyd neem om na hulself om te sien en hulle werklike waarde en potensiaal te besef. Skoonheid straal van binne af buitentoe – jy moet net jou innerlike Marilyn vrylaat.”

Die sangeres se ma, haar suster én haar vriendin maak ook ʼn verskyning in dié video. “‘Marilyn Monroe’ is vir my ʼn baie spesiale video. Die feit dat my ma, my sussie en my vriendin saam met my daarin speel maak dit besonders en iets wat ek altyd sal koester. Dit was ongelooflik lekker om die ervaring met hulle te deel. Daar is baie gelag, veral toe my ma soos ʼn wafferse rock-ster die baskitaar moes speel,” skerts sy.

Die video is die afgelope naweek vir die eerste keer op die kykNET-musiekprogram Jukebox bekend gestel. Die musiekvideo is van Woensdag af ook op YouTube.

“Marilyn Monroe” is ʼn enkelsnit vanaf die sangeres se jongste album wat nog nie bekend gestel is nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.