Video: Elvis Blue en Snotkop skerts in nuwe musiekvideo

ʼn Liedjie het oudergewoonte uit Elvis Blue se pen gevloei, maar hy het die gevoel gekry dat iets kort om dit daardie ekstra bietjie spesiaal te maak. Dié ekstra bietjie spesiaal het hy in Snotkop gekry toe hy ʼn deel van die liedjie kletsrym.

Dié onverwagte duo het pas die musiekvideo vir “Langpad alleen pad” opgeneem.

Elvis vertel dat hy en Snotkop mekaar baie agter verhoë raakloop en dat hulle só vriende geraak het.

“Ek het die liedjie geskryf, toe besef ek daar is ʼn lekker geleentheid vir kletsrym in, maar ek kort iemand om dit te doen. Snotkop was die eerste ou aan wie ek gedink het daarvoor. Hy was toe ook sommer dadelik lus om dit saam met my te doen,” sê hy.

Snotkop het die kletsrym-deel van die liedjie self geskryf en so ook sy eie styl van musiek na die liedjie gebring. Elvis sê “Langpad alleen pad” is ʼn goeie mengsel van dié twee uiteenlopende kunstenaars se style.

“Ons twee se musiek is baie verskillend, maar op die ou end is dit net lekker om lekker dinge saam met lekker mense te doen; dit is van die beste goed in die lewe. Ons is vriende en dit is lekker om saam met jou vriende musiek te kan maak,” sê Elvis.

Vir die musiekvideo het Elvis en Snotkop rolle omgeruil en gemaak asof hulle mekaar is.

Elvis Blue (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

“Ons het soveel pret met die liedjie gehad. Ek het vir hom [Snotkop] ʼn pruik gemaak, en hy was vir ʼn dag Elvis Blue. Ek was vir ʼn dag van my lewe Snotkop! Dit was ongelooflik lekker om Snotkop te wees,” sê hy.

Elvis vertel dat die liedjie eintlik ʼn veel dieper betekenis het as wat in die musiekvideo uitgebeeld word.

“Ek het eintlik oorspronklik die liedjie vir my vrou geskryf. Die liedjie gaan daaroor om nie alleen te loop in die lewe nie, want niemand van ons wil alleen loop nie. En om iemand te vind in die lewe wat saam met jou sal stap, en om vir daardie persoon te sê: ‘Dit maak nie saak waar ons beland nie, ek sal langs jou wees.’”

Elvis Blue en Snotkop gaan albei ook by die Afrikaans is Groot-konsertreeks optree. Elvis sê hy voel bevoorreg om deel van so ʼn soort konsert te kan wees, en bloot dat só ʼn vertoning bestaan.

“Ek het nou al met so baie Engelse musikante in Suid-Afrika gepraat wat sê hulle wens daar was so ʼn tipe ding vir hulle. Ek dink dit is die grootste vertoning in Suid-Afrika, daar is omtrent 80 000 mense wat na die vertoning kom kyk.

“Wat vir my mooi is oor Afrikaans is Groot? Dis Afrikaans! Jy werk vir lank om deel te wees van so iets en vir enige musikant in Suid-Afrika is dit waarvan jy droom. Jy wíl deel wees daarvan,” sê hy.

Maar Elvis sê hy gee nie om of daar, soos by Afrikaans is Groot, 10 000 mense voor hom sit, en of dit ʼn klein intieme vertoning van 20 mense is nie, vir hom is albei lekker.

“Dit gaan eintlik oor die liedjie. Die liedjie kan dinge doen aan mense; dit kan jou dinge laat voel, laat droom, laat dink, laat huil, allerhande dinge. So, dis hoekom ek die liedjie skryf en dit is lekker om dit voor enigiemand te sing.”

“Langpad alleen pad” is op Elvis Blue se jongste album, Jou Huis, beskikbaar asook op alle digitale platforms.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Karl ·

Het Elvis die regtig self geskryf, of gaan hy maak soos sy vorige optredes by AIG en vir almal lieg en se dis sy lied, maar eintlik is dit n vertaling?

Anni ·

Wat maak dit saak Karel? As men’s mut ingaan op almal Wat jok oor liedjie skryf, gaan J jou hande saam slaan. Moet sě snotkop lyk nogal oulik op video met baie hare en sonder hoed.

Amanda ·

Elvis Blue dankie vir jou pragtige lewe. Jy inspireer ons gesin.

Loveit ·

Ek lief die liedjie soooo baie, en ek verpes afrikaanse musiek

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.