Emil Paul, Zanzi Africa blaas nuwe lewe in ballade

Die sangers Emil Paul en Zanzi Africa se splinternuwe duet getiteld “Een keer” is pas uitgereik.

“Een keer” is ʼn kragtige ballade uit die pen van liedjieskrywer Vaughan Gardiner. Die snit is reeds in 2015 deur Zandré (nou bekend as Zanzi Africa) uitgereik. Zanzi en Emil het besluit om nou weer nuwe lewe in dié snit te blaas.

Die storie van die liedjie is geskoei op ʼn ware verhaal van Zanzi se vriendin se man, wat in die lugmag werksaam was. Die gedagte van haar vriendin wat nooit weet wanneer die laaste keer sal wees wat haar man huis toe gaan kom nie, het Zanzi aangegryp en sy het Vaughan se hulp ingespan om ʼn liedjie daaroor te skryf.

“Dit is vir my ʼn groot eer om nou deel te wees van die liedjie en dat ek ook dié verhaal kan help vertel,” sê Emil. Hy is ook ʼn beroepsfotograaf.

Emil en Zanzi hoop om met “Een keer” hoop te skep vir mense wat weens Covid-19 deur ʼn moeilike tyd gaan. Die twee sangers glo die liedjie sal mense daaraan herinner om elke oomblik saam met hulle geliefdes te waardeer, aangesien soveel mense in die laaste twee jaar geliefdes aan die dood moes afstaan weens die pandemie.

Emil het bekendheid as sanger verwerf toe hy in 2019 ʼn plek in Francois van Coke se span op die talentsoekprogram The Voice SA losgeslaan het. Hy het ook onlangs in die musiekbedryf begin werk as vervaardiger. Hy is tans besig om ʼn internskap te voltooi by Muse Studios onder leiding van die sanggroep ADAM se Hugo Ludik.

Zanzi Africa stap ook al ʼn lang pad in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf. Haar album getiteld Die een is in 2015 uitgereik. Sy het ook voorheen in ʼn musiekgroep genaamd Vuurwarm gesing saam met Talana, Chrizaan en Demi Lee Moore. Sy werk ook as grimeerkunstenaar en fotograaf.

“Een keer” is beskikbaar op alle groot digitale platforms.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.