Video: FAK-prys vir Afrikaanse treffermaker

Boet Pretorius is deur die FAK vereer. (Foto: Jhua-nine Wyrley Birch/Maroela Media)

Boet Pretorius het Woensdag trane uit sy oë gevee net soos die engel in Sonja Herholdt se liedjie “Waterblommetjies” toe die FAK hom met ʼn prestige-prys vereer het vir sy bydrae tot en bevordering van die Afrikaanse taal.

Pretorius (85) is ʼn musikant, musiekregisseur en vervaardiger wat pionierswerk gedoen het deur die loopbane van Afrikaanse kunstenaars soos Die Briels, Gé Korsten, Min Shaw, Lance James, Groep Twee, Carike Keuzenkamp en Sonja Herholdt af te skop.

Die geleentheid is in die Liedjietuin by die Voortrekkermonument aangebied, met bekendes in musiekkringe, onder andere Rina Hugo en haar man, Johan van Rensburg, Gert van Tonder, Arina de Witt, Lulu van der Walt, Lydia Winchester en André Viljoen, wat hul vriend en kollega vereer het.

Herholdt het Pretorius verras deur ʼn keur van haar gewildste liedjies soos “Ek verlang na jou”, “Waterblommetjies” en “Die harlekyn” uit te voer. Hy het telkens ʼn traan uit sy oë weggepik en het selfs die geleentheid aangegryp om saam met Herholdt te langarm.

Pretorius se vrou, Yvonne, en twee van sy dogters, asook sy kleinkinders en ʼn agterkleinkind, het die geleentheid bygewoon.

Dr. Danie Langner en Boet Pretorius. (Foto: Jhua-nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, het dié toekenning aan Pretorius oorhandig. “Ons moet eintlik dié prys die baanbrekersprys noem, want ‘baanbreker’ beteken volgens die VivA-app onder meer ‘pionier’, ‘voorloper’, ‘leier’ en ‘wegbereider’. Dit is wat oom vir ons Afrikaanse musiek was,” het Langner aan Pretorius gesê.

Pretorius het tydens sy toespraak gesê hy het “vergeet” wat hy wou sê weens sy emosies wat die oorhand gekry het, maar het nie geskroom om met Herholdt se vertoning die draak te steek nie.

“Jy was ʼn superster en dit is jy nog. Behalwe dat jy omtrent vyf foute op die klavier gemaak het, is daar niks met daai stem verkeerd nie,” het Pretorius geskerts.

“Vandag gaan egter nie net oor my nie. Dit gaan oor die mense saam met wie ek gewerk het en die treffers wat ons saam gemaak het. Ek het 100% gegee en hulle het 150% gegee, en dit is hoe ons sukses behaal het,” het Pretorius bygevoeg.

Pretorius het al op skool in sangkompetisies gesing en kitaar begin speel. Ná skool het hy klasse in musiek geloop en het op universiteit elektronika studeer en sy eie ateljee gebou.

Hy het ook langspeelplate onder die naam Dimpel Pretorius gemaak en in die orkeste van Jurie Ferreira, Nico Carstens en Hendrik Susan gespeel.

Van ongeveer 1975 af het hy by Brigadiers Musiek gewerk, wat later EMI geword het. In 1981 het hy die platemaatskappy Decibel Musiek saam met André Viljoen en Retief van Rooyen, die sangeres Anneli van Rooyen se pa, begin.

Hier was hy vir sowat 130 goue en 15 platinumplate verantwoordelik. In 2000 het hy Decibel verkoop.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

AW ·

Uit eindelik het die FAK, dit wat al lankal moes gebeur het, Nou eers gedoen !!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.